Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Liewer nie, Angie – help jonges wat druip liefs só

Dit gaan nie in Suid-Afrika werk om kinders wat in gr. 1 tot gr. 3 druip, ou­tomaties deur te sit soos wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, beplan nie. Internasionale navorsing wys dié plan werk in sekere Eerste­wêreldlande, maar die grondslagfase (gr. 1 tot gr. 3) in die meeste Suid-Afrikaanse skole is reeds te swak om druipelinge net deur te sit.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Motshekga het in Mei in haar begrotingstoespraak in die parlement gesê sekere strategiese beleidsgebiede is nou op haar departement se radar, veral wat die laer grade aanbetref.

“Die oorweldigende boodskap (van onderrigkenners) is dat dit geen sin het om jong kinders van ses tot tien jaar ’n graad te laat herhaal nie. Volgens die kenners behaal die kinders wat (’n graad) herhaal, absoluut niks. Trouens, vir baie kinders is herhaling ’n magtige, vroeë teken van mislukking – ’n teken wat bly deur die individu se lewe,” het Motshekga gesê.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê in Suid-Afrika begin baie kinders reeds met ’n agterstand wanneer hulle in gr. 1 aankom, want hulle het tot in daardie stadium nog geen onderrig ontvang nie. Die onderwys in die grootste deel van die Suid-Afrikaanse skolegemeenskap skiet ver tekort in die grondslagfase wat kinders se lees- en wiskundige ontwikkeling aanbetref.

Dit lei tot probleme in die grade hoër op, soos die 78% van gr. 4-leerlinge wat volgens navorsing van 2016 nie met begrip kan lees nie. Dit dra by tot die hoë uitsaksyfer onder leerlinge, want net 35% van leerlinge wat in gr. 1 was, het laasjaar matriek geslaag.

Colditz sê kinders gaan baie meer baat vind as hulle die grade in die grondslagfase herhaal as wat hulle dit hoër op in hul skoolloopbane gaan herhaal. Dán gaan hulle sukkel. As die grondslagfase reggeruk word, sal die hoër grade makliker gaan.

Die onderwysbeleid bepaal ’n kind kan een graad per fase herhaal. Hy moet dus deur die ander twee grade in die fase gesit word, al vaar hy hóé swak. Die fases is grondslag (1 tot 3); intermediêr (4 tot 6); senior (7 tot 9); verdere opleiding en onderwys (FET; 10 tot 12).

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die SAOU aanvaar nie die beginsel van “pass one, pass all” nie. Dié plan gaan kinders verder benadeel, juis omdat hulle baat sou gevind het by vaslegging van basiese konsepte.

Alle navorsing toon duidelik die noodsaaklikheid van vaslegging van sulke konsepte en taal is deel van die ontwikkelingsmure van enige kind. As daar nie genoeg kans gegee word om dit vas te lê en te bemeester nie, “kan die volgende rye stene in die muur eenvoudig nie gelê word nie”.

Klopper sê die gapings in kinders se “mure” word ’n werklikheid wanneer hulle in gr. 4 en gr. 8 sukkel om die mas op te kom, grade moet herhaal en die uitsaksyfer uiteindelik die hoogste inskiet.

“Is dié stap nie ’n finansiële oorweging wat die departement van basiese onderwys gebruik om die onderwysbegroting te besnoei nie? Indien die deurvloei van leerlinge versnel kan word, beteken dit minder leerlinge, minder onderwysers en minder klaskamers is nodig. Honderdduisende rande kan só bespaar word, maar teen watter prys?”

Hy sê die kunsmatige manipulasie van die deurvloeisyfer beteken die getal kinders wat in matriek op die skoolbanke sit sonder dat hulle een jaar geslaag het, gaan dramaties styg. Die gehalte van voornemende studente gaan ook nie met dié stap verbeter nie.

Volgens Motshekga geld die outomatiese bevorderingsbeginsel in lande soos China, Korea, Finland, Singapoer, Nieu-Seeland, Japan en Kanada.

“Wat uit die oog verloor word, is dat dié lande suksesvolle onderwysstelsels het waar daar daadwerklike ondersteuning gegee en belê word in dié sektor,” sê Klopper.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Angie Mo­Tshekga  |  Skole  |  Eksamens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.