Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Limpopo-inwoners wag al van 2010 vir nuwe skool

Inwoners van ’n nedersetting buite Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo wag al agt jaar dat ’n nuwe laerskool hier gebou moet word.

Die mense van die Masodi-nedersetting sê die departement van onderwys in Limpopo het in 2010 vir hulle gesê ’n nuwe skool gaan gebou word.

Al wat daarvan gekom het, is ’n oop stuk grond wat ontbos is op die plek waar die Ratunku Primary School gebou moet word.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het Maandag die Masodi-nedersetting besoek.

Die oop stuk grond waar 'n skool in Masodi buite Mokopane (Potgietersrus) gebou moet word.

Inwoners kla dat die oop stuk grond nou ’n misdaadnes is. Daar is glo al vroue verkrag en mense is daar van hul besittings beroof.

Smalle sê die departement van onderwys in Limpopo het in 2010 dokumente onderteken dat die skool opgerig gaan word.

"Nou is hier net een oorvol laerskool met 1 500 leerlinge," sê Smalle.

Daar is tot 64 leerlinge in ’n klaskamer in die huidige laerskool.

"Tot vier leerlinge moet een tafel deel," sê Smalle.

Jacques Smalle, DA-leier, saam met inwoners van Masodi buite Mokopane (Potgietersrus).

Sam Makondo, woordvoerder van die departement van onderwys in Limpopo, sê die gemeenskap verstaan die proses verkeerd. Hy sê die departement van onderwys het in 2010 die aansoek van die Masodi-gemeenskap om ’n nuwe skool te laat bou goedgekeur.

"Die departement van onderwys het dit duidelik gestel dat die skool eers gebou sal word wanneer geld beskikbaar is en die nodige infrastruktuur in die gebied aangebring is."

Makondo sê daar is ’n verskil tussen die goedkeuring van die aansoek wat die gemeenskap gebring het om ’n skool te laat bou en die goedkeuring vir bouwerk.

Smalle sê intussen is daar kinders wat daagliks etlike kilometers moet stap om na naburige skole toe te gaan.

"Daar is ’n rivier en ’n pad wat hulle moet oorsteek om by die ander skole uit te kom."

Solly Malatsi, Jacques Smalle en Beyers Smit van die DA op die stuk grond buite Mokopane (Potgietersrus) waar 'n skool gebou moet word.

Makondo sê die bouwerk is intussen goedgekeur en maak deel uit van die departement van onderwys se begroting vir die 2019-'20-boekjaar.

Die nuwe skool sal uit 20 klaskamers, drie vertrekke vir gr. R-leerlinge en ’n voedingsentrum bestaan. Daar sal ook 36 toilette gebou word. Die skoolterrein sal behoorlik omhein wees en daar sal ’n boorgat gesink word.

Hy kon nie sê wat die koste van die bou van die nuwe skool sal wees of presies wanneer die bouwerk sal begin nie.

Smalle sê die gesloer met die bou van die skool dui op die departement van onderwys in Limpopo se onvermoë om behoorlike onderwys aan leerlinge te verskaf.

Meer oor:  Ratunku Primary School  |  Jacques Smalle  |  Mokopane  |  Potgietersrus  |  Bouwerk  |  Laerskool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.