Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Losloper-leeus’ laat laerskool vir ’n dag sluit

’n Skool is vir die dag gesluit en ’n gemeenskap is in rep en roer nadat leeus glo Dinsdagmiddag op die pad tussen Welkom en Bultfontein in die Vrystaat gewaar is.

John en Marietjie Baumgarten en hul papegaai, Arnoldi, kruip agter hul heining weg vir die leeus wat glo in hul omgewing rondloop. Foto: Mlungisi Louw

Dit kom nadat twee mense dit by onderskeidelik die Bultfontein- en Welkom-polisiekantoor aangemeld het dat hulle leeus op die R710 tussen Bultfontein en Welkom sien loop het.

Die een verklaring lui dat ’n leeu in die lande langs die rivier gewaar is en die ander een het ’n leeu langs die pad in die rigting van Bultfontein sien loop.

Die Nelsdrif Laerskool, in die gebied waar die leeus glo gesien is, is Woensdag vir die dag gesluit.

“Ons sou vandag ’n atletiekbyeenkoms gehad het, maar vir die kinders se veiligheid het ons besluit om hulle vandag by die huis te laat bly,” het Fanus Vermeulen, skoolhoof, gesê.

Hoewel daar geen bewyse van ’n rondloper-leeu of -leeus in die omgewing gevind is nie, is die gemeenskap gevra om hul oë oop te hou vir spore of enige aanduiding van die leeus se teenwoordigheid.

Een van die leeus wat na bewering Dinsdagmiddag tussen Bultfontein en Welkom gewaar is, het langs die Sandrivier geloop. Die rivier is naby die Nelsdrif Laerskool, wat Woensdag gesluit was. Foto: Mlungisi Louw

“Almal moet ook op hul hoede wees vir die diere. Ons sal Donderdag weer die skool open, maar die kinders gaan naby die skoolgebou moet speel. Ons kan nie hul akademie staak totdat die dier(e) eendag vasgetrek is nie,” sê Vermeulen.

Volgens hom is wildplase in die omgewing gekontak om te hoor of een of meer van hul leeus dalk ontsnap het. “Almal wat ons gebel het, sê hul leeus is almal op hok.”

John en Marietjie Baumgarten van die Maratana-kwekery, in die omgewing waar die leeus glo ronddwaal, sê hulle is nie bang vir die leeus nie.

“Ons Jack Russell, Klippies, sal daai leeus sommer gou-gou wys wie is baas,” sê John. Marietjie is wel nie seker oor wat sy sal doen as die leeus hul opwagting maak nie. “Ek moet nog besluit of ek gaan stol en of ek gaan hol.”

Vermeulen sê hy hoop regtig nie die mense wat die leeus gesien het, het ’n grap gemaak nie.

“Die ouers van die skoolkinders en boere en hul werkers is bang. So ’n losloper-leeu kan groot skade aanrig.”

Teen Woensdagmiddag is geen leeu weer gesien of gevind nie.

Meer oor:  Vrystaat  |  Welkom  |  Bultfontein  |  Skool  |  Ontsnap  |  Leeus  |  Gesluit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.