Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lugbesoedeling tas jeug se kognitiewe vermoë aan

Nuwe studies toon lugbesoedeling, wat ’n belangrike kwessie in Suid-Afrika is, het ’n onmiddellike effek op veral jong mense se kognitiewe vermoëns.

Dr. Amanda Brand, ’n navorser van die departement van wêreldgesondheid by die Universiteit Stellenbosch (US), sê dié vermoëns sluit aandagspan, registrasie, herkenning, herhaling en begrip in.

’n Brand wat deur ’n rower gestig is, het Saterdag ’n stoorkamer by die Frimax-depot in Bloemfontein beskadig. Vure is volgens kenners een van die groot bronne van lugbesoedeling. Bloemfontein se PM-telling (atmosferiese deeltjies gemeet in mikrometer) was Donderdag 4,2 keer hoër as die WGO se voorgestelde limiet. Foto: Verskaf

“Besoedeling het ook ’n nadelige effek op spoed van herkenning of uitkenning.”

Sy het verwys na ’n studie, saamgevat in die vaktydskrif Nature, wat fokus op stedelinge van wie 90% jonger as 55 jaar oud is.

“Dit is skrikwekkend dat oorheersend jong mense wat aan ’n universiteit verbonde is se kognitiewe vermoëns so geraak word. Dit sou meer aanvaarbaar gewees het in ouer mense aangesien kognitiewe funksies met tyd agteruitgaan.”

’n Studie deur die Yale-universiteit wat gefokus het op 20 000 mense in China toon dit is veral belangrik dat kinders en studente nie eksamen skryf langs ’n besige pad of naby ’n fabriek nie, want dit kan hul toetspunte (veral in taal en wiskunde) beïnvloed.

Nog ’n onlangse studie deur die Barcelona-instituut vir wêreldgesondheid toon ongebore en pasgebore babas se breinontwikkeling word geraak deur die blootstelling aan atmosferiese deeltjies van 2,5 mikrometer (PM2,5).

Daar is ook verskeie studies wat ’n duidelike verband tussen lugbesoedeling en demensie toon, wat ’n afname in produktiwiteit vir die arbeidsmag beteken.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het afsnypunte van ’n reeks chemikalieë waar die oorskryding van hierdie waardes ’n gevaar vir menslike gesondheid inhou, sê Brand.

“Bloemfontein se PM-telling was vandeesweek gemiddeld 4,2 keer bo die daaglikse veilige vlakke, volgens die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel (SAAQIS).”

Johannesburg is glo vier keer oor die daaglikse perk en Kaapstad is onder die perk.

Brand, wat ook navorsing doen vir die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê wanneer daar monitering geskied, is dit gewoonlik die gemiddeld van ’n groot gebied en dit is dus baie moeilik om hoë vlakke van besoedeling in plaaslike gebiede op te spoor.

Wie is die sondaars?

Enige nywerhede wat fossielbrandstowwe (soos olie, hout of steenkool) verbrand, dra by tot die probleem, sê Brand.

“Maar die grootste sondaars is kragstasies, raffinaderye en produsente van chemikalieë. Vure (huishoudelik, in die landbou en by informele eetplekke) en voertuie dra ook by.”

Veral vliegtuie, ou voertuie met ’n minder omgewingsvriendelike ontwerp en onvolledige ontbranding, en openbare vervoer dra tot die land se lugbesoedeling by.

’n Ander groot bydraer is grondpaaie.

Uit hierdie lysie is dit duidelik dat ’n skuif weg van fossielbrandstowwe na groen tegnologieë (soos son- en windenergie) ’n groot verskil kan maak, sê sy.

Verwante artikels:

“Dink byvoorbeeld aan Kaapstad as ’n geheel waar die wynlande en bergagtige areas die gemiddelde besoedelingsvlak drasties afbring, maar hoë besoedelingsvlakke voorkom in die omgewing van die lughawe en omliggende nywerheidsgebiede.”

Die monitering van so ’n groot gebied berus ook telkens op satellietinligting en gee nie altyd die prentjie op die grond akkuraat weer nie, sê sy.

“Die eerste prys is stasies vir intydse monitering in ’n kleiner gebied om plaaslike variasies op te spoor, maar jy kan jou seker indink hoe duur dit is.”

Sy sê daar is ’n kommerwekkende gebrek plaaslik aan data vir luggehalte.

Intussen het die nasionale akademies van wetenskap en medisyne van Suid-Afrika, Brasilië, Duitsland en Amerika verlede week ’n versoekskrif aan die Verenigde Nasies en hoëvlak-diplomate van die lande oorhandig en gevra dat ’n “wêreldwye ooreenkoms” gesluit word sodat lugbesoedeling onmiddellik bekamp kan word.

Prof. Chris Reddy van die US se departement van kurrikulumstudie meen Suid-Afrikaners is nie naastenby genoeg ingelig oor die onmiddellike gevolge van lugbesoedeling nie.

Die regering doen ook nie genoeg om die probleem hok te slaan nie en reageer telkens te laat, meen hy.

“Die idee van ’n groen ekonomie, asook groener vervaardiging is steeds in sy kinderskoene en ek dink nie dit word op regeringsvlak ernstig genoeg opgeneem nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.