Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
D.F. Malan: LUR besorg oor situasie, MRK kry klagtes

Dié berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.


Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is diep bekommerd oor die situasie by die Hoërskool D.F. Malan in Bellville ná bewerings van diskriminasie teen leerlinge van die LGBTQI+-gemeenskap.

Die skool was vandeesweek in die spervuur nadat daar glo geen optrede was teen die skuldiges wat teen leerlinge van die LGBTQI+-gemeenskap gediskrimineer en hulle beledig het nie.

Die Hoërskool D.F. Malan. Foto: Hoërskool D.F. Malan-webtuiste

Dit het glo gebeur nadat ’n groepie LGBTQI+-leerlinge en hul ondersteuners Maandag gedurende pouse op die rugbyveld bymekaargekom het en deur ander leerlinge uitgejou is.

Die leerlinge wou iets vir Pride-maand doen, maar die skool het dit van die hand gewys omdat dit “nie inklusief is nie”.

Die byeenkoms gedurende pouse was glo iets wat die leerlinge vir hulself wou doen om solidariteit met ander LGBTQI+-leerlinge in die skool te wys.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Verskaf

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê sy is diep bekommerd oor die aantygings en het benadruk dat “sulke gedrag geen plek in ons skole het nie”.

Sy het bevestig dat die distrikskantoor begin het met ’n ondersoek “om al die feite te kry”.

“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement bly toegewyd daaraan om te verseker dat ons skole inklusief is,” sê sy.

“Ons verwag dat ons skole aktiewe stappe sal doen om diskriminasie te bekamp en gelykheid te bevorder.”

Intussen het die Menseregtekommissie (MRK) ook sy kommer gedeel nadat hy glo verskeie klagtes oor die situasie ontvang het.

“Ons neem kennis dat die hoof ook verdere optrede deur LGBTQI+-leerlinge en hul ondersteuners tydens Pride-maand gestaak het,” sê Gushwell Brooks, MRK-woordvoerder.

“Die kommissie ondersoek die klagtes en sal ’n dringende vergadering belê met die skoolhoof, asook met die Wes-Kaapse departement van onderwys, om die bewerings te bespreek en te besluit op ’n pad vorentoe wat in die beste belang van die leerlinge van die skool is,” sê Brooks.

Die skool self het intussen op navrae gereageer en om verskoning gevra.

“As skoolhoof en beheerliggaam van die Hoërskool D.F. Malan is ons jammer oor hoe die gebeure die afgelope week verloop het.”

Die skool se sosialemedia-rekeninge is gedeaktiveer. Op navraag daaroor het die skool gesê hy het dit afgesit.

“Die doel van die skool se sosialemediaplatforms is om die gemeenskap saam te snoer. Tans is dit nie die geval nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.