Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
LUR: ‘Ek het nooit gesê Elana is ’n rassis’

Sello Lehari, Noordwes se LUR vir onderwys, het nooit bedoel om Elana Barkhuizen skade te berokken of haar as ’n rassis uit te kryt nie.

Elana Barkhuizen

So sê hy in ’n verklaring wat hy Woensdagmiddag by die arbeidshof in Johannesburg ingedien het. Die verklaring is deel van ’n kennisgewing dat hy én sy departement hul voorneme terugtrek om Solidariteit se dringende aansoek Donderdag teen te staan dat Barkhuizen se skorsing by die Laerskool Schweizer-Reneke onwettig is.

Die skoolbeheerliggaam het van die begin af gesê hy gaan die aansoek om die skorsing ter syde te stel en haar weer in haar pos te herstel, nie teenstaan nie en sal die hofbeslissing aanvaar.

Die departement en Lehari het aanvanklik gesê hulle gaan die aansoek teenstaan, maar krabbel nou ter elfder ure terug. Hulle gaan ook nie Donderdag in die arbeidshof in Johannesburg wees wanneer die aansoek aangehoor word nie, tensy die hof dit spesifiek verlang.

Rasseherrie

Barkhuizen is die gr. R-onderwyseres wat geskors is nadat sy ’n foto in ’n ander onderwyseres by hul skool se klas geneem het waar wit en swart leerlinge apart sit. Die foto wat op die eerste skooldag van die jaar geneem is, is op sosiale media versprei.

Dit het tot oproer, ’n rasseherrie en bewerings van rassisme by die skool gelei. Die meeste ouers het hul kinders net daarna voorlopig nie skool toe gestuur nie, maar skoolbedrywighede het intussen volledig hervat, het Jozeph du Plessis, voorsitter van die skool se beheerliggaam, Woensdag gesê.

Solidariteit

Solidariteit voer namens Barkhuizen aan dat sy strydig met arbeidswetgewing midde-in die debakel geskors is sonder dat sy kennis gegee is van die voorneme om haar te skors of die geleentheid gehad het om redes aan te voer hoekom sy nie geskors moet word nie. Dít terwyl die foto nie eens in haar klas geneem is nie en daar ’n verduideliking is hoekom die kinders apart gesit het. Die kinders is glo nié weens ras geskei nie, maar bloot sodat gr. R-leerlinge wat nie Afrikaans magtig is nie, spesiale aandag van ’n Tswana-tolk kon kry.

Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes kom gister by Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes aan.Foto: Christiaan du Plessis

Twee swart ouers het onafhanklik van mekaar gesê swart en wit kinders meng andersins spontaan in die Afrikaans-mediumskool.

Solidariteit voer in hofstukke aan die departement en die beheerliggaam se voortydige optrede om Barkhuizen te skors het haar professionele integriteit benadeel en haar as ’n rassis gebrandmerk.

Lehari het ’n dag nadat die skole heropen het, in die openbaar op die skool se verhoog gesê “hy het besluit” om Barkhuizen te skors hangende die departement se ondersoek na die rassismebewerings. Nou ontken hy in sy beëdigde verklaring dat hy Barkhuizen geskors het en erken wat Solidariteit van meet af aan gesê het: dat Barkhuizen ’n aanstelling van die beheerliggaam is en dat die onderwysdepartement dus nie die mag het om haar te skors nie.

Lehari sê nou hy het net die beheerliggaam se besluit om Barkhuizen te skors bevestig.

Verskoning

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hulle verwelkom dit dat die departement nie meer hul aansoek gaan teenstaan nie, maar sou dit nóg meer waardeer het as hulle Barkhuizen om verskoning vra.

“Die feit dat nie een van die respondente ons aansoek teenstaan nie, beteken nie outomaties dit sal slaag nie. Die saak moet nog voluit in die hof geargumenteer word.”

Hermann is versigtig optimisties dat die departement se ommeswaai moontlik ’n aanduiding is dat hulle ook nie sal voortgaan met dreigemente om ander personeel by die skool oor die fotoherrie te skors nie.

Die vermoede is dat Elsabé Olivier, die onderwyseres in wie se klas die foto geneem is, en Alwyn Henning, die skoolhoof, dalk nog geskors kan word. Albei is departementele aanstellings.

Freddy Sepeng, onderwyswoordvoerder, sê egter ’n besluit oor verdere skorsings sal eers geneem word sodra die ondersoek afgehandel is. Hy kan nie sê presies wanneer dit sal wees nie.

  • Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het aan ENCA gesê sy glo nie Lehari het nie die Laerskool Schweizer-Reneke petalje reg benader nie.

Lees ook: Schweizer: DA moet verduidelik, sê SAOU

Meer oor:  Sello Lehari  |  Elana Barkhuizen  |  Rassisme  |  Rasseherrie  |  Leerders  |  Klaskamer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.