Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
LUR het vertroue in matrieks en vra gemeenskap se steun

Dit was ’n ongewone en ontstellende jaar, maar sy het volle vertroue in elkeen wat die matriekeksamen aflê en weet dat hulle kan slaag.

So het Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Woensdag op die vooraand van die matriekeksamen in ’n verklaring gesê.

“Ek wil al ons 2020-matrieks die beste toewens vir die eindeksamen. Julle het baie hulp gehad en het baie hard gewerk, en ons ondersteun julle ten volle. Sterkte.”

Vir talle matrieks is Donderdag se eksamen, Engels: vraestel een, hul eerste. Sommige het reeds praktiese eksamens in onder meer rekenaartoepassingstegnologie afgelê. Vrydag word die eerste vraestel vir Afrikaans geskryf.

Die eksamenlokaal in die Hoërskool DF Malan in Bellville. Foto: Jaco Marais

By die Hoërskool DF Malan in Bellville, Kaapstad, het die skoolbanke Woensdag gereed gestaan, ver uit mekaar gespasieer, vir die koms van die matrieks. Houers met ontsmettingsmiddels staan reg by die deure en plakkate teen die mure waarsku dat ’n gesonde afstand gehandhaaf moet word.

Schäfer het ’n beroep gedoen op alle Wes-Kapenaars om nie die eksamen op enige manier te ontwrig nie.

“Ons kom jaarliks voor uitdagings te staan weens onrus in gemeenskappe of geskille oor vervoer. Dit skep onnodige angs vir ons leerlinge en voorkom soms dat hulle die eksamen volledig kan aflê.”

Voorheen is berig dat meer as ’n miljoen geregistreerde kandidate landwyd die matriekeksamen sal aflê.

Altesame 1 058 699 heeltydse en deeltydse kandidate is geregistreer om hulle tussen 5 November en 15 Desember in eksamenlokale landwyd vir die Senior Sertifikaat- en die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS-)eksamen aan te meld.

’n Houer met ontsmettingsmiddel staan by die ingang van die lokaal. Foto: Jaco Marais

In die Wes-Kaap sal bykans 100 000 kandidate die NSS-eksamen aflê – ’n baie groter groep as wat gewoonlik in die November-sessie sou skryf. Donderdag begin 95 427 kandidate met die eksamen, vergeleke met die 64 465 verlede jaar.

“Met so ’n groot groep leerlinge wat gelyktydig skryf, is dit noodsaaklik dat geen onnodige ontwrigting plaasvind nie,” sê Schäfer.

“Daarbenewens sal ons matrieks weens Covid-19 ’n paar ongewone veiligheidsmaatreëls moet hanteer en sal hulle verstaanbaar senuweeagtig wees. Ons kan nie bekostig om hulle meer angstig te maak nie,” sê sy.

“Ek verstaan dat inwoners van ons provinsie tans sukkel, en dat die pandemie en inperking ons swaar getref het, maar dit is nie ons matrieks se skuld nie en hulle hoef dit nie te ontgeld nie.”

’n Handleiding lê reg voordat die eksamen begin. Foto: Jaco Marais

Sy doen ’n beroep op elke Wes-Kapenaar om saam te werk om te verseker dat “alles moontlik gedoen word om ons matrieks veilig, gemotiveerd en in die beste moontlike gemoedstoestand te hou” om die eksamen af ??te lê.

Nagenoeg 1 000 000 vraestelle in die Wes-Kaap moet vanjaar deur 2 964 nasieners gemerk word. Die nasienwerk word in tien skole asook in die Kaapse Instituut vir Onderrig en Leierskap gedoen en 889 studente help om die punte op te tel.

Die nasientydperk is van 5 tot 21 Januarie en die minister van basiese onderwys sal na verwagting die uitslae op 22 Februarie bekend maak.

Dié leerlinge wat universiteitstudente gaan word, sal in 2021 byna ses weke later as gewoonlik vir die begin van die akademiese jaar by die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad inval.

Die universiteite sê hulle beplan om die akademiese jaar op 15 Maart te laat begin – veel later as die gewone tyd aan die begin van Februarie.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.