Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
M-graad vir dapper vrou nadat sy 4 keer kanker klop

Ondanks die feit dat Lisa Sanders (28) van Waverley al vier keer kanker gehad het, het sy verlede maand haar meestersgraad in toegepaste taalstudies by die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf.

Lisa Sanders het al vier keer ’n stryd teen kanker gevoer, maar het nogtans verlede maand haar meestersgraad in toegepaste taalstudies aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

“Ek was twee jaar oud toe my ma ’n knop aan die agterkant van my regterbeen gekry het,” sê Sanders. “Teen daardie tyd was die knop reeds so groot soos ’n eend se eier.”

Die kanker is verwyder, waarna Sanders vir 18 maande bestraling en chemoterapie ondergaan het. Haar een been was ook ná die tyd korter as die ander.

“Agt jaar later het dieselfde been begin pyn en is nog ’n knop gevind,” vertel Sanders. “Ek is met beenkanker gediagnoseer. Volgens dokters was die beste oplossing om my knie te vervang, wat dan ook gedoen is.

“In die proses was die bloedsomloop in my been baie swak en is my twee bene aan mekaar vasgewerk om te probeer help. Ongelukkig het dinge lelik skeefgeloop en die bloedsomloop het tot so ’n mate verswak dat my regterbeen onherstelbaar beskadig is en ’n entjie bo die knie geamputeer moes word.”

Vir die volgende 11 jaar het dinge betreklik normaal vir Sanders verloop en sy het haar eerste graad in sielkunde aangepak, maar in haar derde jaar het sy ’n tweede keer beenkanker gekry. Dié keer was die probleem in haar linkerbeen. Sy het ’n been van ’n skenker gekry, maar weer was daar probleme wat daartoe gelei het dat groot gedeeltes van Sanders se been met metaal vervang is.

Ná verdere chemoterapie het Sanders ’n klomp klasse gemis en kon uiteindelik haar graad eers ’n jaar later voltooi. Dit was egter nog nie die einde van haar probleme nie.

“Ek het in 2013 verskriklike maagpyn begin kry,” sê Sanders. “Die pyn was by tye amper onuithoudbaar, maar my dokter het my verseker ek is te jonk om kanker in my derms te kry. Die pyn het nie beter geword nie en in 2014 het ek ’n tweede opinie gekry. ’n Ondersoek is gedoen en ek het toe wel kanker in my derms gehad.”

Ek het dit oorweeg om nie weer die chemoterapie te ondergaan nie, want net die gedagte om vrywillig jouself te laat vergiftig en te weet jy gaan oor ’n paar ure absoluut goor voel, is genoeg om dit te wil los.

’n Stuk van 14 cm is uit Sanders se dermkanaal gesny en chemoterapie is weer voorgeskryf.

“Ek het dit oorweeg om nie weer die chemoterapie te ondergaan nie, want net die gedagte om vrywillig jouself te laat vergiftig en te weet jy gaan oor ’n paar ure absoluut goor voel, is genoeg om dit te wil los,” sê Sanders. “Chemoterapie is so rof ek sal dit nie vir my grootste vyand toewens nie. ’n Mens het egter nie juis ’n keuse nie en my kanker is sedertdien in remissie.”

Sanders kan self bestuur en sy kom andersins met krukke oor die weg. Haar groot liefde is tale en behalwe vir Afrikaans en Engels wat sy vlot praat, het sy ook in 2011 met Japannese lesse begin en sy het dié taal ook al goed baasgeraak. Sy kan Latyn lees en skryf en het ook basiese kennis van Frans en Duits.

Sanders werk sedert Februarie vanjaar by die Japannese ambassade in Groenkloof. Sy was verlede jaar vir die eerste keer in Japan en sê dit was ’n wonderlike ondervinding.

“Die kos in Japan is fantasties en selfs dit wat ’n mens in ’n supermark koop, is heerlik,” sê sy. “Ek het iets van alles probeer.”

“Met my kankerstryd was my ma my grootste ondersteuner. Selfs as ek moeilik was, het sy iets positiefs daarvan gemaak. Wat ek geleer het uit dit alles is dat kanker nie die einde is nie en ’n mens moenie moed opgee nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.