Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ma dreig met eis ná rondruk en klap by Grey

’n Ma van Grey-kollege (Sekondêr) in Bloemfontein dreig met siviele eise omdat twee gr. 11-leerlinge nie geskors is nie wat volgens haar haar seun aangerand het. Haar seun se een oordrom het in die voorval gebars.

Grey volstaan daarmee dat die saak – oor “ ’n gryp voor die bors, ’n rondruk en ’n klap op die oor” – streng ingevolge sy etiese kode, verantwoordelik en onpartydig gehanteer is.

Die grasperk voor die snoepwinkel by Grey Kollege (Sekondêr). Foto: Grey Kollege

Die ma meen die straf van onderskeidelik 50 en 30 uur gemeenskapsdiens (onderskeidelik vir 25 en 15 uur opgeskort), wat op 9 Oktober aan die seuns in ’n interne dissiplinêre verhoor opgelê is, is te min.

Volgens die ma het dieselfde “boelies” hulle in die verlede aan vlak 2- en 3-oortredings by die skool skuldig gemaak. Hulle moes nou geskors gewees het.

Sy sê dit kan nie die norm by Grey wees dat kinders aangerand en boelies beskerm word nie. Die vyf weke se programme wat die twee seuns by Nicro moes deurloop en nog 12 maande se daaglikse telefoniese gesprekke met ’n maatskaplike werker is onvoldoende straf.

Die inskakeling by Nicro was nadat sy en haar man ingestem het om die strafregtelike klag by die polisie terug te trek.

Die ma sê die seun wat haar kind op die oor van agter geklap het, het al in 2015 ’n jaar se hulp by Nicro gekry. Haar seun was vir ’n ruk doof.

Die ma sê die een seun het haar seun voor die bors gegryp en sy kop teen ’n muur gekap.

Ander gr. 11-seuns het ook haar kind gestamp, gevloek, geskel en gedreig.

Volgens haar is sewe regslui deur die verskillende partye ingeroep.

Die sanksie is gebalanseerd, prakties en regverdig. Die vrou wat ontevrede is, het verskeie opsies. Een is om haar seun in ’n ander skool te sit wat aan haar standaarde voldoen.

Die name van die ouers kan nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die minderjarige kinders te beskerm.

Die ma het aanvanklik die Valke, die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdaad, na Grey laat kom oor die voorval wat op 13 Maart vanjaar plaasgevind het.

Dit gaan oor die grasperk voor die snoepwinkel wat die gr. 11-leerlinge vir hulself toegeëien het en waarop ’n leerling in ’n laer graad volgens hulle nie mag stap nie.

Ian Small-Smith, voorsitter van die dissiplinêre paneel en ’n beheerraadslid, sê Grey het streng volgens die skool se interne kode opgetree en die saak verantwoordelik en onpartydig gehanteer.

“Dit is onmoontlik om in ’n skool met 2 500 seuns altyd almal gelukkig te hou. Uiteindelik is dit gemeensaak dat hier ’n gryp voor die bors, ’n rondruk en ’n klap op die oor plaasgevind het.” (Sic)

Daar is ’n onpartydige aanklaer aangestel wat ’n lid van die Bloemfontein-balie is en ’n onafhanklike maatskaplike werker het verslae opgestel.

“Die sanksie is gebalanseerd, prakties en regverdig. Die vrou wat ontevrede is, het verskeie opsies. Een is om haar seun in ’n ander skool te sit wat aan haar standaarde voldoen.”

Deon Scheepers, die skoolhoof, sê omdat die saak in ’n ernstige lig beskou is, is dit na die beheerliggaam vir ’n eksterne verhoor verwys.

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Deon Scheepers  |  Bloemfontein  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.