Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ma se veldtog nadat skoolmaat seun boelie

’n Ma van Mitchells Plain in Kaapstad wil nie hê ander kinders moet soos haar seun geboelie word nie. Daarom het sy met ’n landwye veldtog daarteen begin.

Beverley Davids het al by 140 skole opgetree.

Chauncey Davids het akademies goed presteer toe ’n skoolmaat hom in gr. 7 begin boelie het, blykbaar uit jaloesie.

Sy ma, Beverley, reken dit was omdat Chauncey modelwerk gedoen het. Sy gesig het op advertensieborde en ’n sakeonderneming se voertuig verskyn. Boonop is die oud-Protea-krieketspeler JP Duminy sy oom.

Davids sê haar seun het skielik erg senuagtig geword en met erge hoofpyn gesukkel. Hy wou snags heeltyd braak.

Sy onthou hy het altyd daarop aangedring dat sy slegs grondboontjiebotter op sy brood smeer.

“Watter seuntjie hou dan nie van ham en kaas op sy toebroodjies nie?” vra Davids. Tot sy uitgevind het die boelie en sy maats gooi dit op die grond en dwing Chauncey om dit daar te eet.

‘Eendag het hy tuis gekom, sy mond amper oopgeskeur.’

“Hulle het my kind getreiter, getreiter . . . Eendag het hy tuis gekom, sy mond amper oopgeskeur.”

Davids het vasgestel die betrokke boelie het groot huislike probleme ondervind.

In 2014 is die Davids-gesin in rou gedompel toe die 14-jarige Chauncey in ’n brand by sy ouerhuis dood is.

Dieselfde jaar het Davids die Chauncey’s Epic Anti-Bullying Campaign begin. Sy bied slypskole en motiveringspraatjies oor dié antisosiale gedrag by skole en jeugorganisasies aan. Tydens die nasionale inperking het hulle ook kospakkies in arm gemeenskappe uitgedeel.

Die Chauncey Epic Anti Bullying Campaign NPO het reeds 140 skole landwyd bereik.

Haar man, Llewellyn, ’n paar klein borge en Duminy hou haar veldtog aan die gang.

Davids sê sy kry goeie samewerking van baie onderwysbestuurs-en-ontwikkelingsentrums in onderwysdistrikte.

“Chauncey het ’n legacy gelos,” sê Davids. “Ons probeer om altyd nog ’n kind se lewe te red.

“Tydens praatjies bars ’n seun daar in die groep in trane uit, dan weet ek ons maak ’n impak, ons bereik ’n hart.”

Chauncey Davids (12)

Pak boeliegedrag só

Dr. Jaco Deacon, adjunkvoorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas):

* Onderwysers en leiers kan helder onderbaadjiesdra – dat ’n kind wat geboelie word kan weet: “Hier is iemand om te help, ek kan hierheen hardloop.”

* Kinders kan ook ’n fluitjie dra en hard daarop blaas as kinders baklei of boeliegedrag voorkom.

* Skole moet meer voete op die terrein hê. Almal kan nie in die personeelkamer sit en tee drink nie.

* Gebruik kameras op die terrein en klaskamers.

* Kry ’n WhatsApp-nommer waarheen kinders anoniem boodskappe kan stuur.

* Boeliegedrag en ’n beleid moet op beheerliggame se agendas wees.

Stop boeliegedrag

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder van jeugleierskap:

* Skole moet kenners kry om leerlinge toe te spreek en onderwysers opleiding te gee.

* Programme moet by alle skole aangebied word.

* Onderwysdepartemente moet meer fokus op bewusmakingsprogramme om boeliery en selfdood te keer.

* Skoolgemeenskappe moet proaktief optree teen boeliegedrag.

* Laai die gratis teenboeliegids van AfriForum se webwerf af.

Die departement van basiese onderwys het dié planne aan die minister en LUR’e voorgehou:

* ’n Inligtingstoer deur die minister;

* Opleiding van skole se veiligheidskomitees;

* ’n Multisektor- en interdepartementele benadering;

* Sterker vennootskappe;

* Kinder- en jeugwerkers moet op brandpunte vir boeliery geplaas word; en

* Opleiding van leerlingrade en beheerliggame.

Meer oor:  Jaco Deacon  |  Boelies  |  Boeliegedrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.