Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ma stuur lyfwag in uniform saam met seun Grey toe

’n Bloemfonteinse ma het Maandagoggend ’n lyfwag in uniform saam met haar seun na Grey-kollege (sekondêr) gestuur nadat hy glo Vrydag weer deur boelies aangerand is.

Die skoolhoof het hulle egter glo huis toe gestuur.

Grey-kollege (sekondêr) Foto: www.gc.co.za

Die ma, wie se identiteit nie bekend gemaak kan word nie om die kind se identiteit te beskerm, sê sy gaan nou met regstappe teen Grey begin.

“Ons het vanoggend ’n lyfwag saam met ons kind Grey toe gestuur, omdat die skool nie in staat is om ons kind te beskerm nie en ons besluit het om dit self te doen.

“Maar hulle was net ’n halfuur by die skool voordat die hoof, Deon Scheepers, hulle huis toe gestuur het.”

Sy sê Scheepers het aan haar gesê dit is teen die skoolbeleid. “My gr. 10-seun is glo welkom sonder sy lyfwag.”

Die ma sê die skoolhoof het aan haar gesê hy en die beheerliggaam dra nie kennis van die aanranding Vrydag op haar kind nie.

“Maar ek het oor die naweek vir hom (Scheepers) ’n WhatsApp gestuur.”

Dit is dieselfde ma wie se kind se oortrommel op 13 Maart vanjaar by Grey gebars het toe ’n medeleerling hom van agter hard op die oor geklap het.

’n Ander leerling het hom boonop in die musiekkamer opgetel en sy kop hard teen die muur gestamp, het die ma in ’n vorige interne dissiplinêre verhoor getuig.

Sy sê dit is nie dieselfde twee gr. 11-leerlinge wat hom Vrydag aangerand het nie.

Sy sê sy is ook ontevrede met die straf van 50 uur gemeenskapsdiens, opgeskort tot 25 uur, en 30 uur se gemeenskapsdiens, opgeskort tot 15 uur, wat die twee boelies onderskeidelik op 9 Oktober opgelê is.

Sy meen die straf is te lig.

Sy sê sy het ook Maandag die hulp van Henry Buchner, die beheerliggaamvoorsitter, en Johan Volsteedt, die vorige skoolhoof, ingeroep.

“Ek is ook in gesprek met adv. B.C. Ngwenya, hoof van die Vrystaatse onderwysdepartement.”

Die ma sê die Valke, die polisie se voorkeurmisdaad-eenheid, het ook ’n kaptein aan hulle toegewys om die tweede aanranding te ondersoek.

“Ek en my man is vanmiddag (Maandag) ook weer by die Parkweg-polisiekantoor om ’n tweede aanrandingsaak teen die leerlinge te open, asook ’n saak teen die skool wat nie art. 110 van die Kinderwet eerbiedig deur aanrandings by die skool op die regte wyse en by die regte plekke aan te meld nie.”

Sy sê haar kind sal met ’n uitkenningsparade in staat wees om die regte belhamels uit te wys.

Die ma beweer haar kind is Vrydag deur gr. 11-leerlinge gevloek en geskel, terwyl hy en sy familie met vierletter-“p-woorde” toegesnou is.

Ook is glo aan hom gesê: “En jy moet uit die f****n skool uit.”

Sy beweer ook dat haar kind met rugbyballe gestoot, geskop en in die gesig gegooi is.

“My kind se gees en moed is gebreek.”

Scheepers, Putu Pretorius, dissiplinêre hoof by Grey, Ian Small-Smith, voorsitter van die dissiplinêre paneel wat die eerste aanrandingsaak hanteer het, en Buchner is almal Maandag verskeie kere gebel, maar niemand het hul fone geantwoord nie.

Meer oor:  Deon Scheepers  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.