Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
FOTO'S: Ma woedend omdat kind (2) glo arm by kleuterskool breek

Die ma van ’n tweejarige kleuter, wat haar arm glo Dinsdag by ’n kleuterskool gebreek het, oorweeg stappe teen die skool.

Toe die ma van Kuilsrivier Dinsdag haar dogtertjie by die Snip en Rissiepit-kleuterskool in Zewenwacht oplaai, het sy agtergekom dat die kind “nie reg lyk nie”.

“ ’n Ma ken haar kind. Sy het nie gehuil nie, maar ek kon sien dat daar iets fout is met haar,” het die ma Vrydag gesê.

Die kind met haar gebreekte arm. Foto: Verskaf

Die kleuter het in die motor op pad huis toe begin huil. Die ma het aanvanklik gedink dat sy net haar aandag probeer trek.

Toe die kleuter egter in haar tweejarige-woordeskat probeer sê dat haar arm seer is, het die ma na die skool teruggegaan.

“Ek wou presies weet wat gebeur het,” het die ma gesê.

Die onderwyseres het toe eers vir haar gesê dat haar kind se arm daardie dag seergekry het.

Die ma het die volgende dag by die huis gebly en die kleuter se toestand gemonitor.

Die ma het gesê teen ongeveer 18:00 het sy gesien haar dogtertjie se arm het begin verkleur en swel.

Sy het haar na die Eerste Rivier-hospitaal geneem en X-strale is geneem. Die departement radiografie was al toe en sy moes vroeg Donderdag teruggaan. Die dokter het intussen ’n pynstiller gegee.

Die X-strale het gewys haar arm is wel gebreek en dit is in gips gesit.

Die kind met haar gebreekte arm. Foto: Verskaf

Die ma hou vol dat die voorval plaasgevind het terwyl die kleuters sonder toesig gelaat is.

“Die onderwyseres het gesê sy het na die toilet gegaan en is nie heeltemal seker wat met my dogter gebeur het nie,” het die ma gesê.

Latichia Gelderblom, die hoof van Snip en Rissiepit, het gesê die kinders “was ten alle tye onder toesig. Die onderwyseres waarvan die ma praat, is nie die een in wie se klas haar dogter is nie.”

Gelderblom het wel gesê die skool het geweet die kleuter het geval, maar dat hulle nie die erns van die saak besef het nie.

“Die kleuter het op die gras geval. Niemand het haar geslaan nie en sy het ook nie van ’n hoë plek afgeval nie. Sy het nog agterna met haar kop op dieselfde arm gelê en slaap en toe het ons gedink dit kon nie so seer wees nie. As die kind se arm toe al gebreek het, sou sy kliphard geskreeu en gehuil het, maar sy was stil,” het Gelderblom gesê.

Die ma sê die skool het nog nie met haar gekommunikeer nadat sy die foto’s van haar dogter se arm aan hulle gestuur het nie.

Volgens Gelderblom het sy en haar dogter die ma gebel, maar haar selfoon het beset gebly.

Meer oor:  Kleuterskool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.