Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Maak Maties Engels,' sê rektor

"Engels sal voortaan die amptelike taal van onderrig en alle kommunikasie aan die Universiteit van Stellenbosch (US) wees, met substansiële akademiese ondersteuning wat in 'ander Suid-Afrikaanse tale' verskaf sal word."

Die bestuur van die US het Donderdagaand in 'n skrywe laat weet dat prof. Wim de Villiers, rektor, en sy kantoor, in gesprekke was met die senaat en studente-groepe oor die universiteit se taalbeleid, taalplan en toepassing van die taalbeleid. 

"Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer word om geen uitsluiting nie op grond van taal te verseker. Dit impliseer nie dat Afrikaans as taal van leer en onderrig aan die Universiteit Stellenbosch sal verdwyn nie. Die universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale," lui die verklaring.

"Op grond van die terugvoer oor ervarings binne die klaskamer en insette van Open Stellenbosch, die studenteraad (SR), Sasco en die studenteparlement, het taaltaakspanne sedertdien verskeie opsies oorweeg vir, onder meer, beste praktyk in die toepassing van taal in 2016.

"In hierdie verband wil ons graag erkenning gee aan die beduidende bydrae wat die Open Stellenbosch-kollektief in die onlangse gesprekke gemaak het om te verseker dat taaltoepassing aan die US nie 'n struikelblok vir toegang tot onderriggeleenthede of die suksesvolle voltooiing van akademiese programme word nie."

Die status van die verklaring van die rektor se bestuurspan is dié van 'n besprekingsdokument. Die statuut van die universiteit bepaal dat die raad die taalbeleid met instemming van die senaat bepaal. Vir enige voorgestelde veranderinge aan die huidige taalbeleid, sal voorstelle by 'n formele vergadering van die senaat voorgelê word voordat dit aan die raad voorgelê word. Dit is onwaarskynlik dat so 'n proses nog in 2015 voltooi kan word.

Die verklaring lui voorts dat dit nie impliseer dat Afrikaans as taal van leer en onderrig aan die Universiteit Stellenbosch sal verdwyn nie. Die universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.

Vir 2016 sal die toepassing van parallelmediumonderrig (afsonderlike Engelse en Afrikaanse klasse) vir modules met groot inskrywingsgetalle soos in die vooruitsig gestel in die huidige taalplan, drasties versnel word.

"By Donderdag se senaatsgesprek is departemente herinner aan die bestaande riglyn in die taalplan dat behoorlik ag geslaan moet word op ondersteuningsmeganismes vir studente wat nie voldoende vaardig is in Engels of Afrikaans nie, veral in kleiner klasgroepe waar parallelmedium-onderrig nie haalbaar is nie."

Vir modules met 'n groot aantal inskrywings, wat verdeel word vir pedagogiese redes of weens die beperkte grootte van beskikbare lesinglokale, sal die universiteit voortgaan om parallelmedium-onderrig uit te brei. In kleiner klasgroepe sal alle inligting in Engels oorgedra word. Bykomense ondersteuning in Afrikaans en isiXhosa sal voorsien word gedurende die lesing en/of aanvullende, gefasiliteerde leergeleenthede om studente te help om die akademiese materiaal te verstaan.

Dit sal afhang van vermoëns van die dosente en onderrigassistente. Dosente sal voortgaan om in beide Afrikaans en Engels onderrigmateriaal te verskaf en assessering te fasiliteer. 

Soos tans die geval is, kan studente toetse, eksamens en opdragte in Engels of Afrikaans voltooi.

In koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies gebruik. Ander tale kan ook bykomend gebruik word, en meganismes soos tolkdienste kan ook ingespan word.

Die primêre taal van kommunikasie en administrasie van die Universiteit Stellenbosch sal Engels wees, met Afrikaans en isiXhosa as addisionele tale, lui die skrywe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.