Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maak Pukke Engels en meer swart, eis betogers

’n Swart vrou moet prof. Fika Janse van Rensburg, adjunk-visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potch-kampus, vervang en Engels moet voortaan die enigste onderrigtaal wees.

Alle geboue op dié kampus wat na “wit kolonialiste” soos Ferdinand Postma en Frans du Toit genoem is, moet verander word na name van swart leiers soos Solomon Mahlangu en Sol Plaatje.

Nhlanhla Mthethwa, voorsitter van die studente-organisasie Sasco op die Potch-kampus, het Vrydagmiddag ’n memorandum met dié en ander eise aan die Potch-kampusbestuur oorhandig.

Sasco- en EFF-lede het vóór die oorhandiging sowat ’n uur op die kampus gemarsjeer en struggle-liedjies gesing.

Nhlanhla Mthethwa, voorsitter van die studente-organisasie Sasco op die Potchkampus, lees Vrydag die memorandum voor wat hy geweier het om aan prof. Fika Janse van Rensburg (heel regs), adjunk-visekanselier van die NWU, te oorhandig. Foto: Susan Cilliers

Hulle het plakkate rondgeswaai waarop staan Down with Afrikaans en Afrikaans must fall.

Mthethwa het voor tientalle studente na Janse van Rensburg as die kampus se “wanbestuur” verwys en geweier om die memorandum aan hom te oorhandig.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier, het Janse van Rensburg gevra om die memorandum namens hom te ontvang omdat hy ander universiteitsverpligtinge in Mahikeng gehad het. Mthethwa het egter namens Sasco en die EFF-leiers gesê: “Ons sal die memorandum oorhandig aan wie óns wil.”

Dis toe aan prof. Lumkile Lalendle, uitvoerende direkteur van studentelewe op die Potch-kampus, oorhandig.

Die betogende studente eis onder meer ook dat 51% van die koshuisbewoners teen 2019 swart moet wees, dat studente met uitstaande skuld toegelaat moet word om hul jaareindeksamens te skryf en dat die kampus-beskermingsdienste ophou om swart studente te “teister”. Registrasiegelde vir 2019 mag ook nie styg nie.

Sasco en die EFF wil binne sewe dae terugvoering hê.

Janse van Rensburg het agterna in ’n video op die NWU-Pukke se Facebook-blad gesê hoewel die optog vreedsaam verloop het, sal daar “gevolge” wees vir die organiseerders wat hom nie waardig geag het nie en “eenkant gestoot het” met die oorhandiging van die memorandum.

Die betogers op pad om hul memorandum te gaan oorhandign.Foto: Susan Cilliers

“Die kampusbestuur sal die kwessies ernstig oorweeg, maar ons sal ons nie laat voorskryf oor hoe dinge moet gebeur nie. Ons het die vermoë én wil om dissipline te handhaaf.”

Johan Blaauw, direkteur van die NWU se taaldirektoraat, sê baie modules word reeds in Engels aangebied ingevolge die universiteit se funksionele meertaligheidsbeleid. Dit beteken dat gewissel word tussen tolking, parallelmedium (waar klasse apart in onderskeidelik Engels en Afrikaans aangebied word) en dubbelmedium (waar Afrikaans en Engels saam in een klas gebruik word).

Van die studente wat nie aan die betoging deelgeneem het nie, meen die ideale oplossing sou parallelmedium wees. “Die tolkapparaat maak my ore sere, ek het al oorinfeksies daarvan gekry” het Tommy Horton, ’n student in aptekerswese, gesê.Hy, Kamogelo Mogagabe, ’n B.Com-student, en Alex Seahloli, ’n LLB-student, glo parallelmedium sal almal tevrede stel. “Ons kry dit reeds in die LLB-kursus en dit werk goed,” het Seahloli gesê.

Sasco- en EFF-ondersteuners betoog Vrydag voor die regsfakulteit van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Foto: Susan Cilliers

Job Vorster, ’n BSc-student, sal ook parallelmedium verkies, maar steun die huidige beleid dat die gebruik van tale na gelang van die situasie aangepas word. As Afrikaanssprekende student voel hy egter “’n mens word groot met die gedagte dat jy jammer moet wees jy bestaan”.

Danelle van Dyk, ’n onderwysstudent, Frans van der Merwe, ’n sielkundestudent en Bianca Piangca, ook ’n sielkundestudent, meen Vrydag se optog was deel van ’n groter politieke agenda om die Afrikaanse kultuur en wit mense van die kampus te probeer verdryf deur hulle onwelkom te laat voel.

“Hierdie is die laaste kampus ter wêreld waar nog in Afrikaans onderrig word,” het Van Dyk gesê. “Ons vra net dat ons dit gegun word, ons gun ander groepe om in Engels onderrig te word. Ons het ook ’n reg om hier te wees.”



Meer oor:  Nwu  |  Kansellier  |  Onderrigtaal  |  Studente  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.