Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Maak skole oop wat gereed is’ – AfriForum

Skole wat gereed is, moet toegelaat word om op 27 Januarie te heropen.

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan ’n dringende skrywe rig aan die nasionale bevelsraad en die departement van basiese onderwys met die pleidooi dat skole wat aan die Covid-19-protokolle voldoen, toegelaat sal word om aansoek te doen om op 27 Januarie te heropen.

Dit kom nadat dr. Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, Vrydagoggend op ’n mediakonferensie aangekondig het dat openbare skole se gr. 1- tot gr. 12-leerlinge eers op 15 Februarie mag terugkeer skool toe.

Natasha Venter, raadgewer vir onderwysregte by AfriForum, sê in ’n verklaring dit is in die beste belang van leerlinge en ouers dat skole, waar die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is, soos beplan heropen.

“Leerlinge het reeds verlede jaar gely onder die chaos wat die inperkingsregulasies meegebring het, en ons kan nie bekostig dat hulle verder agterraak nie. Baie skole het reeds die nodige reëlings getref om na personeel en leerlinge se gesondheid om te sien.

“Dit is daarom onregverdig van die departement om dié skole te benadeel omdat die departement nie ingegryp het om toe te sien dat skole wat nie self die nodige maatreëls in plek kon stel nie wel na behore toegerus is nie.”

Sy sê die uitstel van die heropening van die skole skep verwarring by leerlinge.

“Skole sal by die nuwe normaal moet aanpas. Die regering se gesloer om ’n entstof te verskaf en die weiering dat ander rolspelers hierby betrokke raak, asook die moontlikheid van verdere vlae van infeksies beteken dat ons nog ’n tyd lank veiligheidsmaatreëls sal moet volg – iets wat baie skole reeds goed regkry. Dit beteken egter nie dat kinders se opvoeding, sosiale ontwikkeling en welstand agterweë kan bly nie,” sê Venter.

Die VF Plus meen ook dat skole wat veilig kan heropen, moet toegelaat word om dit te doen. “Slegs waar ’n bewese onvermoë is om die verspreiding van die virus te voorkom, moet die teendeel geld. Dit sal die las verlig om later die verlore tyd in te haal,” sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor basiese onderwys.

Hy sê die akademiese ontwrigting wat van die een jaar na die ander jaar oorgedra word, skep frustrasie.

“Sommige ouers en onderwysers is verlig daaroor omdat hulle vir hul en hul kinders se lewens vrees. Ander vrees die gevolge as kinders alleen tuisbly terwyl hul ouers werk en niemand na hulle kan omsien nie,” sê hy.

Hy sê die beplande openingsdatum van 27 Januarie sou reeds probleme geskep het. “15 Februarie mag dit in ’n tweede krisisjaar laat ontaard.”

Intussen het die staande komitee oor onderwys, tegnologie, sport en kultuur in die parlement die besluit verwelkom.

Elleck Nchabeleng, voorsitter van die komitee, het in ’n verklaring ’n beroep gedoen op die onderwysdepartement om te verseker dat alle protokolle in die skole gereed is voordat die leerlinge terugkeer. “Die departement moet op ons ervarings van verlede jaar bou. Ons het nou ervaring, so kom ons gebruik dit om beter voor te berei en planne te beraam.”

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys, het ook die uitstel verwelkom.

“Dit was noodsaaklik dat die regering die heropening van die skole moes uitstel, veral ná ’n toename in koronavirusgevalle en Covid-19-sterftes. Ons kan nie bekostig om nog meer druk op ons gesondheidstelsel te plaas nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.