Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Parktown-tragedie: Maat ‘waarsku’ oor seun se verdrinking

’n Seun in gr. 8 aan die Parktown Boys’ High School in Johannesburg sê hy het kampfasiliteerders herhaaldelik gewaarsku dat hy laas vir Enock Mpianzi (13) in die water sien spartel en dat hy vermis geraak het. Daar is egter nie ag op geslaan nie.

Dié leerling het vertel van die gebeure wat uiteindelik tot die dood van Enock gelei het tydens ’n water-aktiwiteit verlede Woensdag by die Nyati Bush and River Break lodge in Noordwes.

Sy weergawe is namens hom op die radiostasie 702 voorgelees.

Hy het vertel dat hy die Woensdaggoggend ’n seun alleen by die skool sien staan het terwyl leerlinge gereed gemaak het om na die skool se gr. 8-oriënteringskamp te vertrek.

Enock Mpianzi (13) Foto: Verskaf

Hy sê hy en sy vriend het met hom gaan maats maak.

Hy sê geen teenwoordigheidslys is gelees voor hul vertrek met die bus nie en ook nie voor die eerste aktiwiteit by die kamp nie.

Die seuns is ná middagete in groepe verdeel en na ’n plek geneem om draagbare te bou.

Die seun was in die ander groep as Enock. Hulle moes toe met die draagbare na die rivier hardloop om ’n noodgeval na te boots. Daar was geen onderwysers by die rivier nie – net skoolprefekte en kampfasiliteerders. Dié het hulle gevra wie kan swem en wie nie.

Die wat kon moes die riviertaak doen. “Enock het gesê hy kan swem.” Geen reddingsbaadjies is aan hulle gegee nie.

Een seun in elke groep was ’n “beseerde” wat in die rivier af gevaar moes word na ’n sekere punt.

Swem-binnebande is aan die draagbare vasgemaak.

“Die rivierstroom was sterk. In minder as twee minute in die water het die draagbaar omgeslaan . . . ons het almal geskarrel vir iets om aan vas te hou.”

Hy sê Enock kon nie aan die binneband vashou nie.

“Ek het hom sien spartel. Dit het gelyk of hy op een plek vassit terwyl hy probeer het om sy kop bo die water te hou. Ek het ’n paal gegryp en dit na Enock toe probeer aangee, maar kon hom nie bereik nie. Die rivier het hom weggevoer.”

Die seuns het om hulp geroep, maar daar was geen volwassenes te sien nie. Hulle is om die rivierboog weggevoer en hy het Enock uit die oog verloor.

Verder stroomaf het kampfasiliteerders hulle uit die water getrek.

Terug by die saal is ’n teenwoordigheidslys uitgelees. “Toe Enock se naam geroep is, het ’n seun sy hand opgesteek. Hy is gevra of hy Enock is, waarop hy nee geantwoord het, maar die persoon wat die name uitgelees het, het toe net na die volgende naam op die lys aanbeweeg.

“Die persoon het gesê hy dink nie dat Enock na die kamp gekom het nie, maar ek het gesê Enock wás by die kamp en die laaste keer wat ek hom gesien het, het hy in die rivier gespartel.”

parktown, Enock Mpianzi
Enock se lyk is verlede Vrydagoggend gekry. Foto: Felix Dlangamandla
Felix Dlangamandla

Die persoon het gesê dat Enock by groepe aangesluit het.

Die seun en een van sy skoolmaats het later vir ’n kampfasiliteerder gaan sê dat Enock vermis is, maar dié was “onbeskof en het ons weggestuur”.

’n Teenwoordigheidslys is weer ná aandete gelees en Enock was steeds nie daar nie.

“Toe ek die fasiliteerder oor Enock uitvra, het hy weer gesê dat Enock in ’n ander kamphut is.”

Die volgende oggend is weer ’n teenwoordigheidslys uitgelees. Die onderwyser het toe gesê hy dink Enock het nie na die kamp toe gekom nie. Die seun en sy maat het weer hul storie vertel.

’n Kampfasiliteerder het toe ’n reddingsbaadjie na die rivier geneem waar hy na Enock begin soek het, sê die seun.

Daardie aand by aandete het ’n fasiliteerder met ’n foto van Enock aangekom en aan die seuns gevra of iemand hom gesien het.

Die seun en nog twee ander is toe deur die polisie ondervra.

Vrydag, terug by die skool, “het ek die nuus gehoor dat my nuwe vriend nie meer lewe nie”, sê hy.

Enock se lyk is Vrydag in die rivier by die oord gevind.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Woensdagoggend aan 702 gesê hy gaan “binne die volgende 48 uur” teen die skool optree.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Argief

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.