Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Makhura wil swak laerskole in provinsie regruk

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die aankondiging deur die Gautengse premier verwelkom dat hy die peil van laerskoolonderrig wil lig.

“In ’n provinsie waar die departement van onderwys meer gereeld op politiek as die gehalte van onderrig fokus, is hierdie opvoedkundige besluit soos ’n vars bries,” sê dr. Danie Brink, hoof van die SOS.

Dit kom nadat David Makhura, premier, Maandag in Soweto in sy provinsiale rede aangekondig het dat hy die peil van laerskoolonderwys in die provinsie wil lig en swak laerskole wil regruk.

Hy het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, opdrag gegee om die nasionale geïntegreerde assesseringsraamwerk te implementeer, wat onder meer beteken dat laerskole se eksamenuitslae voortaan soos die jaarlikse matriekuitslae bekend gemaak sal word.

Makhura sê hierdie “baanbrekersprojek sal aanspreeklikheid en deursigtigheid van prestasie regdeur die stelsel bevorder” en sal die ouers bemagtig om beter besluite oor hul kinders se onderrig te neem.

Huistaal, die eerste addisionele taal en wiskunde is die bepalers van die gehalte van ’n skool se onderrig en word as basis in internasionale assessering gebruik.
Chris Klopper

Volgens Makhura sal die ingrype ook verhinder dat kinders in die skolestelsel wegraak.

“Skole (en ouers) wonder dikwels of hulle op die regte pad is en leer wat hulle behoort te leer. Die matriek-eindeksamen bied aan hoërskole in Suid-Afrika die geleentheid om hulself akademies te vergelyk met ander skole en aanpassings te maak waar nodig. Dit is ’n luuksheid wat laerskole nie meer het nie sedert die afskaffing van die jaarlikse nasionale assesserings (ANA’s) in 2016,” sê Brink.

Brink glo egter Makhura kan teenstand verwag van onderpresterende skole wat nie graag hul gebrekkige prestasie aan die groot klok wil hang nie.

“Indien die geïntegreerde assesseringsraamwerk egter benut word om onderwysers te ondersteun en toe te rus om leemtes doeltreffend te pak en beter onderrig te gee sal die onderwys in Gauteng beslis daarby baat vind,” sê Brink.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die departement sal moet bepaal vir watter grade hierdie assessering gaan geld.

“Gr. 3 en 6, onderskeidelik die einde van die grondslagfase en intermediêre fase, sal sin maak. Gr. 7 is weer die begin van die senior fase,” sê Klopper.

Hy sê die regering sal gestandaardiseerde vraestelle moet gebruik en die gehalte van nasienwerk moet dophou. Die departement sal ook moet vasstel op watter vakke die assessering van toepassing gaan wees.

Die departement sal ook moet vasstel op watter vakke die assessering van toepassing gaan wees.

“Huistaal, die eerste addisionele taal en wiskunde is die bepalers van die gehalte van ’n skool se onderrig en word as basis in internasionale assessering gebruik.

“ ’n Ander probleem is dat die afspeel van skole teenoor mekaar daartoe lei dat die skole leerlinge afrig vir die eksamens en dan word ’n skewe beeld van die werklike standaard van onderwys verkry omdat skole bang is vir die openbare mening,” sê Klopper.

Tseliso Ledimo, die Gautengse sekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), is ook ten gunste van Makhura se plan.

“ ’n Suksesvolle onderwysstelsel moet ’n stewige grondslagfase hê. Dis ’n baie goeie idee, want dit sal help om die uitdagings in ’n leerling se ontwikkeling vroeg te identifiseer en iets daaraan te doen.”

Lesufi het nou 100 dae om die status van alle laerskole in die provinsie en die regrukplan vir swak presterende skole aan die provinsie se uitvoerende komitee voor te lê.

Die Gautengse departement van onderwys het nie betyds op navrae gereageer nie.

Meer oor:  David Makhura  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.