Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maloka bedank uit konvokasie oor wit aanstelling

Eddy Maloka het bedank as die Universiteit van Kaapstad (UK) se president omdat ’n wit man as waarnemende adjunk-visekanselier: transformasie aangestel is.

Em.prof. Martin Hall, ’n historiese argeoloog wat verskeie leierskapsposisies aan die UK beklee het voordat hy in 2008 bedank het, is aangewys in die pos nadat prof. Loretta Feris skielik bedank het.

Maloka, uitvoerende hoof van die Afrika-portuurhersieningsmeganisme (APRM) wat twee jaar gelede tot president van die konvokasie verkies is, het in ’n brief aan die voorsitter van die universiteitsraad, Babalwa Ngonyama, geskryf dat dié verwikkeling hom “geruk het.

“Dit het my laat wonder of ek op die regte plek is . . . en of ek nog enige waarde het om tot die universiteit toe te voeg.”

Hy skryf verder hy kan nie ’n verduideliking vind daarvoor waarom ’n swart vroue-adjunk-visekanselier haar pos so skielik ontruim het “en waarom, toe ’n plaasvervanger gesoek is, ons ’n afgetrede wit man gekies het terwyl daar soveel talent by die universiteit vir hierdie portefeulje is nie”.

Maloka het benadruk dat hy Hall ken en respekteer, maar hy meen dat die portefeulje van adjunk-visekanselier: transformasie gevul moet word in terme van die “vlamme” van die #FeesMustFall-beweging wat dit tot stand gebring het.

Die #FeesMustFall-betogings het vanaf 2015 by Suid-Afrika se universiteite opgevlam. Studente en aktiviste het wysigings geëis aan die finansieringsmodelle, wat armes uitsluit, ’n “gedekoloniseerde” onderwysstelsel en die verwydering van struikelblokke vir toegang tot hoër onderwys, wat swart studente die ergste raak.

Jenni Evans van News24 berig dat Elijah Mohololo, woordvoerder van die UK, gesê het die raad sal binnekort oor die kwessie vergader.

“Die UK het met spyt van die bedanking van Eddy Maloka, die president van die konvokasie, kennis geneem,” het Mohololo bygevoeg.

“Ons het ook kennis geneem van die redes waarom hy bedank het.

“Die UK het verskeie belanghebbendes wat hul mening oor die aanstelling van die waarnemende adjunk-visekanselier: transformasie gelug het. Die UK-raad gee die saak die nodige aandag en sal binnekort vergader om die vele kwessies rakende hierdie aangeleentheid te bespreek.”

In ’n verklaring wat Dinsdag aanlyn geplaas is, het prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier, gesê Feris “is nie afgedank, soos beweer word, nie”.

Phakeng het gesê Feris se termyn sou op 31 Desember 2021 eindig, maar dat sy nie ’n tweede ampstermyn van vyf jaar wou hê nie.

Feris het ook sabbatsverlof tot einde Januarie 2022 gevra.

Phakeng het gesê toe ’n kandidaat gesoek is om in die pos waar te neem, is geen aansoeke van kandidate aangevra nie.

Die visekanselier benader as lynbestuurder vertroulik ’n moontlike kandidaat en die besluit oor die aanstelling berus by die raad ná ’n benoeming deur die visekanselier.

“Dit is geweldig problematies om aan te dui dat die vermoë van lede om die universiteit vir ’n beperkte tydperk te bedien slegs op grond van ras, ouderdom en geslag kan wees. Dit is ’n verwronge en verkeerde siening van transformasie.”

Phakeng het gesê Hall, wat in sy vorige termyn diensbillikheid by die UK toegepas het, was ook vir onder meer die totstandbringing van die universiteit se transformasiekantoor en die vorming van transformasiekomitees by die instelling verantwoordelik.

“Van die kritiek waarteen hy tydens sy ampstermyn te staan gekom het, was dat hy hom meer toegespits het op radikale transformasie – wat sy verbintenis tot transformasie beklemtoon.”

Lees die UK se verklaring oor Feris se bedanking hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.