Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Mangaung-metro sny skole se water oor skuld

Die Mangaung-metro in Bloemfontein het Dinsdag oor die etensuur begin om skole in die stad se water af te sny oor meer as R100 miljoen se waterskuld en meer as R180 miljoen se erfbelastingskuld.

Adv. Tsoarelo Malakoane, hoof van die Vrystaatse onderwysdepartement.Foto: Argief

’n Noodvergadering gaan nou tussen die Vrystaatse onderwysdepartement, die departement van openbare werke en die metro gehou word oor die saak.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het Dinsdagaand by navraag gesê skole waarvan die water Dinsdag afgesny is, het nie by hul ooreenkoms met die metro gebly nie.

Khedama sê in die verlede het die departemente van onderwys en openbare werke in vergaderings met die metro gesê dat hulle aan skole hul gelyke- beregtigingstoelaag sal gee om die skole in staat te stel om hul verpligtinge teenoor die metro na te kom.

“In dié stadium lyk dit nie asof dit gedoen word nie.”

Khedama sê die metro het gemeen die feit dat Ernest Mohlahlo, voormalige finansiële hoof van die metro, nou die adjunk-direkteur-generaal by die departement van openbare werke is, sou die situasie vergemaklik.

“Ons sal met albei departemente se verteenwoordigers vergader sodat hulle die munisipaliteit kan betaal. Die wanbetaling veroorsaak dat die metro deur die internasionale kredietgradeerder Moody’s afgradeer word. “Dit maak dit ook vir die metro uiters moeilik om sy krediteure te kan betaal as hy nie vir sy dienste en water betaal word nie.”

Khedama sê die metro verstaan dat water ’n baie sensitiewe saak vir skole is omdat dit oor kinders gaan.

“Maar die provinsiale regering moet aan die metro gee wat hom toekom, omdat ons die water van Bloemwater moet aankoop. Vir die metro om dienste te kan lewer, moet inwoners, sakeondernemings en staatsdepartemente wat die metro nou sowat R6 miljard skuld, seker maak dat hulle die metro betaal.

Ons sal met albei departemente se verteenwoordigers vergader sodat hulle die munisipaliteit kan betaal.

“Ons gaan ons voet dwars sit om ons geld te kry.”

Raadslid Rossouw Botes (DA) het bevestig dat skole meer as R100 miljoen vir water en meer as R180 miljoen in erfbelasting skuld.

Raadslid Fief van der Merwe (DA) sê van die skole waarvan die water afgesny is, het koshuise met kinders wat moet was, toilette gebruik en kos moet kry.

“Ek dink dit is onwettig wat gedoen word en daar moet ’n hofuitspraak kom. Dit is presies wat drie jaar gelede ook gebeur het toe die kinders matriekeindeksamen geskryf het.”

Van der Merwe sê dit is al die druk wat op die metro geplaas word dat hy onder administrasie geplaas gaan word wat meebring dat daar nou dringend geld gesoek word.

“Wat so onregverdig is, is dat sagte teikens soos skole geïdentifiseer en geboelie word, terwyl die onderwysdepartement in samewerking met die departement van openbare werke vir die erfbelasting verantwoordelik is en húlle voor stok gekry moet word.”

Wat so onregverdig is, is dat sagte teikens soos skole geïdentifiseer en geboelie word, terwyl die onderwysdepartement in samewerking met die departement van openbare werke vir die erfbelasting verantwoordelik is en húlle voor stok gekry moet word.
Raadslid Fief van der Merwe

Die departement van openbare werke skuld in dié stadium meer as R300 miljoen aan die metro, is onlangs in die Vrystaatse wetgewer in antwoord op ’n vraag van die DA gesê.

Die water van ’n bekende Bloemfonteinse meisieskool waarvan die waterrekening op datum is, maar wat R100 miljoen in erfbelasting skuld, is nou afgesny terwyl die skool Dinsdagaand ’n geselligheid by die skool gehad het.

Van der Merwe sê die dreigement is nou dat die metro die watertoevoer van ander skole in dieselfde situasie ook die week gaan onderbreek.

Mariette Pittaway, DA-wetgewerlid belas met onderwys, het Dinsdagaand met adv. Tsoarelo Malakoane, hoof van die Vrystaatse onderwysdepartement, oor die krisis gepraat.

Hy het volgens haar gesê dit is nie sy departement se funksie om skole se munisipale rekenings te betaal nie.

Die departement van openbare werke moet volgens hom die erfbelasting van skole betaal, sê Pittaway.

Malakoane was nie seker wat die reëling tussen die departement van openbare werke en die skole is nie, sê sy.

Malakoane het haar verseker dat hy onmiddellik gaan kyk hoe hy die probleem kan oplos.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Bloemfontein  |  Skole  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.