Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Matie-vergadering ‘reguit en eerlik’

Maandagaand se raadsvergadering van die Universiteit van Stellenbosch (US) is deur ’n raadslid as ’n “reguit en eerlike” vergadering beskou met versoening en kompromieë wat deurslaggewend was.

Daar is tussen raadslede onderhandel, en “hárd onderhandel”.

“Die mense in die raad weet hoe om te onderhandel en daar is hard onderhandel. Dis hoekom hulle daar is,” het nog ’n raadslid gesê.

Die US-raad het Maandagaand die US se verbintenis tot Afrikaans herbevestig deur ’n mosie vir meertaligheid te aanvaar. Hoewel die akademiese aanbod in Engels uitgebrei sal word, sal Afrikaans as gelyke akademiese en administratiewe taal behoue bly.

George Steyn, raadsvoorsitter, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy wil dit beklemtoon dat die raad transformasie aan die US steun.

“In die mosie wat ons Maandag aanvaar het, verklaar die raad dat taal nooit ’n hindernis mag wees vir enige student wat aan die US wil studeer nie.”

Altesaam 24 stemme is vir die mosie ingedien, een stem was daarteen en twee het buite stemming gebly.

Luidens die verklaring kom Steyn se kommentaar “te midde van voortslepende aantygings en innuendo op sosiale media dat die universiteitsraad deur middel van die taalbeleid transformasie aan die US teenstaan”.

“Ons het in dié mosie bestuur trouens versoek om die nodige meganismes in plek te stel om te verseker dat uitsluiting weens taal nie sal voorkom nie. Die raad het hom daartoe verbind om die bestuur te ondersteun as die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken sou oorskry.

“In die praktyk kom dit daarop neer dat die bestuur studente wat nie Afrikaans magtig is nie, ten volle in Engels wil ondersteun, sonder dat dit afbreuk doen aan die Afrikaanse akademiese aanbod.

“Ek beskou die raad se mosie as ’n baie sterk boodskap aan alle belangegroepe van die US dat ons verbind is tot inklusiwiteit en die uitbreiding van onderrigtale aan die instelling. Meertaligheid is vir ons ’n strategiese bate; dit maak ons uniek en gee ons ’n kompeterende voordeel bo ander instellings.”

Hy sê wel hy het met “groot teleurstelling en misnoeë” kennis geneem van Piet le Roux (’n raadslid) se herhaling van sy vroeëre uitlatings oor transformasie in die hoër onderwys – #DownWithTransformania – op sosiale media. Die herhaling volg nadat die raad ’n ondersoek hierna teruggetrek het en as afgehandel beskou het.

Le Roux het hierop gesê: “Ek is verbaas dat mnr. Steyn nie die goeie oordeel aan die dag lê om by die raad se besluit, dat die saak teen my as afgehandel beskou word, te berus nie. Ek win intussen regsadvies in en sal spoedig meer uitgebreid reageer.”

Raadslede het die vergadering verder soos volg opgesom:

 “Daar is altyd twee kante aan ’n storie en albei kante probeer hul bes om hul verlangde uitkoms te kry. Iewers moet daar tog in die middel uitgekom word. Die onuitgesproke strewe was om ’n kompromis te kry om dit reg te kry, maar om daar te kom het reguit en eerlike gesprekke geverg. Om ’n kompromis te kry moes verskeie toegewings aan albei kante gemaak word en dit moes gedoen word in die belang van die groter prentjie van die universiteit. Dit kon ook ’n verdeelde raad gebring het en niemand sou hierby baat gevind het nie. As daar nie ’n kompromis gekry is nie, sou die druk op die universiteit baie toegeneem het.”

“Die debat tussen raadslede was ’n lang, driftige gesprek en daar was aanvanklik geensins eensgesindheid oor die taalkwessie nie. Dis harde politiek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.