Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maties: Debat, verdeeldheid oor Afrikaans duur voort

Groot verdeeldheid het Dinsdag by die Universiteit Stellenbosch (US) tussen studente, personeel en alumni geheers oor die bekragtiging van die taalbeleid wat gelyke status aan Engels en Afrikaans gee.

Terwyl Open Stellenbosch en die studenteraad hul kommer oor die taalbeleid uitgespreek het, is dit deur AfriForum Jeug en die Afrikaanse Alumnivereniging (AVV) verwelkom.

Die raad self het die taalbeleid met ’n oorgrote meerderheid gesteun.

Prof. Amanda Gouws, dosent in politieke wetenskap aan die US, het gesê dit is duidelik dat die raad en die senaat verskil oor die taalbeleid.

Sy is een van meer as 200 akademici wat onlangs hul steun aan prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, toegesê het om Engels die voertaal te maak.

“Die oorgrote meerderheid van die senaatslede het gestem ter ondersteuning van die rektor se voorstel. Die raad het gestem ten gunste van die bestaande taalplan.”

Sy sê sy was nog nooit gekant teen veeltaligheid nie, maar is wel bekommerd oor die toepassing daarvan.

“My probleem is die suksesvolle implementering van die taalopsie sodat niemand uitgesluit word nie.

“Dit sal gaaf wees as die raad vir ons die geld gee om hierdie opsies te implementeer. Daar is nie geld nie.

“Dit bekommer my hoe ons die studente wat uitgesluit voel, gaan insluit.”

Daarteenoor het die AVV die raad se besluit as ’n “oorwinning vir (die) taal” beskryf.

“Niemand – ook nie die AAV nie – maak aanspraak op ’n enkelmediumuniversiteit of ’n universiteit wat nie oop is vir alle studente van alle rasse in Suid-Afrika nie,” lui ’n verklaring.

“Dit is egter prakties en redelikerwys doenlik – veral in die Wes-Kaap waar Afrikaans die meerderheidstaal is – dat Afrikaans by die US as hoof- of gelyke onderrig- en administratiewe taal beskerm word op ’n inklusiewe, nierassige en niediskriminerende grondslag.

“Die raad se besluit is ’n oorwinning in die milieu van die taaldebat op meerdere fronte: Dit is ’n oorwinning vir Afrikaans as amptelike taal asook vir Engels as ’n amptelike taal. Dit is ’n oorwinning vir meertaligheid en inklusiwiteit.”

Open Stellenbosch het Dinsdag beloof om nie te rus voordat die raad ontbind óf ’n nuwe taalbeleid aanvaar word nie.

Die Maties-studenteraad het in ’n verklaring gesê hy is uiters bekommerd oor die sentimente wat duidelik uit die raad se mosie blyk. “Ons is bekommerd dat die mosie beteken daar sal geen verandering wat betref taal by die US wees nie, wat eindelik daartoe sal lei dat baie studente op kampus uitgesluit sal bly,” lui die verklaring.

Morné Mostert, nasionale verteenwoordiger van AfriForum Jeug, het gesê hulle dink die raad se besluit was regverdig.

“Dit is verblydend om te sien die raad is bereid om vir sy beleid te baklei,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.