Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maties en taal: ‘Dink weer’

Oudstudente van die Universiteit Stellenbosch word gevra om druk op hul alma mater uit te oefen om te “herbesin” oor sy besluit om Afrikaans as voertaal in te kort en ’n taalbeleid te aanvaar wat tot die “snelle verengelsing” van die universiteit sal lei.

Die oproep voor die konvokasie se jaarvergadering wat Donderdag plaasvind, kom ook kort voor ’n hofsaak waarin die universiteit gedwing gaan word om rekenskap te gee van sy beleid om voortaan Engels as voorkeurtaal te gebruik.

Dit het wel die reg om te vra dat die universiteit oop kaarte met sy alumni speel.
Prof. Hermann Giliomee

Die hofsaak, wat deur die organisasie Gelyke Kanse gevoer word, sal teen die einde van Maart in die hooggeregshof in Kaapstad begin.

Prof. Hermann Giliomee, wat reeds jare lank ’n stryd voer om Afrikaans se toekoms op Stellenbosch te verseker, skryf in ’n ope brief aan konvokasielede dat die uitfasering van Afrikaans as universiteitstaal “ingrypende implikasies” vir Afrikaans as skooltaal inhou.

“Behalwe vir die Potchefstroom-kampus (van die Noordwes-Universiteit) is daar geen plek waar persone wat hulle vir die onderwys met Afrikaans as voertaal wil bekwaam hul graad en hul onderwysdiploma kan ontvang nie. Dit beteken ook dat daar ál minder instellings sal wees waar kultuuroordrag van die een geslag na die volgende kan plaasvind.”

Giliomee meen dat Stellenbosch se konvokasie, ’n liggaam waaraan alle gegradueerdes van die universiteit behoort, die enigste statutêre liggaam van die US was wat sedert 2002 “bly aandring het op ’n vaste, volwaardige en volhoubare aanbod in Afrikaans”.

“Dit beteken nie die uitsluiting van Engels nie, maar dat die Engelse aanbod nie dié in Afrikaans ondergrawe nie.

“Die konvokasie kan nie op die universiteit ’n taalbeleid afdwing nie.

“Dit het wel die reg om te vra dat die universiteit oop kaarte met sy alumni speel.”

  • Die konvokasievergadering word Donderdag om 19:00 in die Paul Roos Sentrum op die gronde van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gehou. Bel die universiteit by 021 808 4020 vir meer inligting. 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.