Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maties fokus op ernstiger kwessies as taal – SR-voorsitter
Xola Njengele, voorsitter van die US se studenteraad. Foto: Verskaf

Studente op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) het “baie, baie ernstiger kwessies” as die taaldebat, meen die voorsitter van die studenteraad, Xola Njengele.

Hy meen dit is drukgroepe van buite wat die taalkwessie op ’n spesiale voetstuk plaas.

Njengele, wat met ’n nagraadse LLB-studie besig is, het gesê studente het ander fokuspunte soos die finansiering van hul studies en huisvesting asook hul probleme met die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS), wat vir hulle baie belangriker is.

“Dit is baie interessant om te sien hoe daar van buite die US-kampus op die taalkwessie gefokus word. Dit laat die vraag ontstaan of buitepartye werklik belang stel in die welstand van die US se studente en of hulle vir hul eie gewin politieke uitsprake oor die taalbeleid maak”.

“Ons daaglikse ervaring hier op die kampus is anders as wat in die media gesê word. Alles is normaal. Dit is nie werklik so ’n groot gesprekspunt tussen ons studente nie.”

Hy het gesê daar is beskuldigings dat Afrikaans onderdruk word, maar op die kampus ervaar hy dat studente in die taal van hul keuse sosialiseer.

“Studente word toegelaat om hul taal te praat.”

Dit is baie interessant om te sien hoe daar van buite die US-kampus op die taalkwessie gefokus word. Dit laat die vraag ontstaan of buitepartye werklik belang stel in die welstand van die US se studente en of hulle vir hul eie gewin politieke uitsprake oor die taalbeleid maak.

Wat die gebruik van Afrikaans in die akademie betref, moet die taalbeleid inklusief wees sodat niemand agtergelaat word nie, het hy gesê. “Ek dink in klasse word die huidige taalbeleid goed toegepas.”

Hy het gesê in sy eerstejaarsklasse het die lektore gevra hoeveel studente in Afrikaans en hoeveel in Engels wil klas wil hê, en “baie, baie min” studente het aangedui dat die klasse in Afrikaans aangebied moet word.

Volgens Njengele het van sy Afrikaanssprekende medestudente wel daaroor gekla dat hulle sukkel om die Afrikaanse skyfies wat verskaf is met die Engelse aanbieding in die klasse te vergelyk.

Die studenteraad het dr. Antoinette van der Merwe, senior direkteur van die US se afdeling vir leer-en-onderrigverryking, gevra om die konsep van die nuwe voorgestelde taalbeleid te verduidelik, en dit is verlede week gedoen. Alle studente kon daarna luister.

“Die eerste stap is dat elke individu goed ingelig is oor die konsep, en dan kommentaar lewer oor hoe dit jou as persoon raak,” het Njengele gesê en bygevoeg dat die studenteraad ook ’n inset gaan lewer.

Intussen het die organisasie The Open Stellenbosch Collective op Facebook in ’n verklaring beweer dat konserwatiewe groepe, wat deur die DA gelei word, dele van die Afrikaanse gemeenskap probeer mobiliseer om druk op die US uit te oefen om Afrikaans weer die hoofonderrigtaal te maak.

Volgens die organisasie gebruik hulle die versinde kwessie dat Afrikaans in koshuise verbied word om stemme teen die US-taalbeleid te werf met die doel om die vooruitgang wat in die breër toegang tot die universiteit gemaak is om te keer.

Een van die nagevolge hiervan is dat “swart studente en progressiewe lektore verbaal geïntimideer word”, beweer Open Stellenbosch.

By navraag het die US gesê die universiteit is nie bewus van onlangse voorvalle van “verbale intimidasie” wat swart studente of personeel ondervind het of waar hulle gedwing is om Afrikaans te praat nie.

“Die universiteit het oor die afgelope paar jaar baie moeite gedoen om verskeie meganismes te skep om personeel en studente wat uit diverse omstandighede kom te help om meningsverskille as positiewe leerervarings te ervaar en tot die skep van ’n inklusiewe Matie-gemeenskap by te dra,” het die US gesê.

“Die US-bestuur vergader gereeld met die studenteraad en die kwessie van die taalbeleid is nie een van die belangrikste kwessies wat deur studenteleiers geopper word nie. In ons gesprekke met studenteleiers blyk dit ook dat daar tans nie ernstige kommer oor polarisasie in die studentegemeenskap is nie.”

Die universiteit het oor die afgelope paar jaar baie moeite gedoen om verskeie meganismes te skep om personeel en studente wat uit diverse omstandighede kom te help om meningsverskille as positiewe leerervarings te ervaar en tot die skep van ’n inklusiewe Matie-gemeenskap by te dra.

In reaksie op Open Stellenbosch se aantyging dat die DA konserwatiewe groepe lei, het dr. Leon Schreiber, DA-LP en kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, gesê dit is veelseggend dat dit slegs nog hierdie groepie radikale ideoloë is wat prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, se taalbeleid van “Engels eerste” verdedig.

“Die keuse waarvoor die US staan, is nou duideliker as ooit tevore. Aan die een kant staan De Villiers saam met sy handjievol radikale bondgenote van Open Stellenbosch wat om ideologiese redes van Afrikaans ontslae wil raak. Aan die ander kant staan die DA saam met die eens stille gematigde meerderheid wat nou besig is om hul stem in hul strewe vir gelykheid tussen Engels en Afrikaans dik te maak,” het Schreiber gesê.

“Die keuse wat die US-raad oor die taalbeleid gaan maak, sal dus aandui of politieke gedienstigheid aan radikale ideoloë vir hulle belangriker as die grondwetlike waarde van gelykheid is.”

• Die US het intussen Woensdag in ’n verklaring gesê belangstellendes word daaraan herinner dat daar nog tot Maandag kommentaar op die eerste konsep van die hersiene US-taalbeleid (2016) gelewer kan word. Kommentaar kan slegs deur die digitale platform ingedien word. ’n Skakel op die webblad www.sun.ac.za/taal verleen toegang daartoe.

Die US se hersieningtaakspan van die taalbeleid sal al die insette wat deur die digitale platform ingedien is, versamel en ’n verslag hieroor saamstel.

Alle insette sal oorweeg word, maar dit is moontlik dat nie alle kommentaar by die tweede konsep van die hersiene taalbeleid (2016) ingesluit sal kan word nie. Die tweede konsep sal in die tweede semester van die jaar vir kommentaar beskikbaar gestel word, volgens die US.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.