Nagenoeg 3 280 studente van die Universiteit Stellenbosch (US) kry Vrydag om 14:00 aanlyn hul grade.
Dit nadat vroeër besluit is om die Maart-April-gradeplegtighede weens die staat van inperking te kanselleer.
“Om die belangrike mylpaal te vier, word graduandi, hul familie en vriende genooi om die verrigtinge aanlyn te volg,” sê dr. Ronel Retief, registrateur van die US.
Die kwalifikasies sal in absentia deur oudregter Edwin Cameron, nuwe kanselier, toegeken word. Elke Matie wat ’n graad verwerf, se naam sal nie uitgelees word nie, hoewel dit aanlyn gepubliseer sal word.
“Die kanselier sal volgens die gebruiklike gradeplegtigheid-protokol die kwalifikasies in absentia aan die hele groep ontvangers toeken,” sê Retief.
Dit sal nie langer as 10 minute duur nie om datakoste so laag as moontlik te hou.
Dit sal nie langer as 10 minute duur nie om datakoste so laag as moontlik te hou.
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, Cameron en Retief het vooraf boodskappe aan die studente opgeneem en dit sal deel van die verrigtinge wees. Hulle sal dit ook aanlyn volg.
Daar sal Vrydagoggend ’n skakel na die verrigtinge op die US se tuisblad, www.sun.ac.za, geplaas word. ’n Video-opname van die verrigtinge sal op die webblad beskikbaar bly vir diegene wat later daarna wil kyk.
Retief sê sertifikate en ander dokumente sal eers ná die inperking gepos kan word, maar haar kantoor ondersoek die moontlikheid om grade elektronies te gee aan studente wat dit dringend benodig. Nader besonderhede sal op die webblad beskikbaar wees.
In ’n skrywe aan graduandi sê Retief: “Ons bedank jou by voorbaat vir jou begrip in die onseker tyd en sal jou op die hoogte hou oor die grade-dokumente.”
Studente wat hul grade in Maart en April kry, sal steeds die geleentheid hê om aan die Desember-plegtighede deel te neem na gelang van die omstandighede teen daardie tyd.