Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maties nou oor rassisme geleer

Die senaat van die Universiteit Stellenbosch het eenparig ’n mosie aanvaar om navorsing en wetenskap by die universiteit te “transformeer”.

Prof. Amanda Gouws

Die mosie stel voor dat daar van alle personeel verwag word om ’n kursus te doen in “menslike kategorieë in wetenskap” en dat eerstejaars ook verplig word om modules te doen oor “teen-rassisme” en demokrasie.

“Ons glo die universiteit behoort ’n kernterrein te word vir die ontwikkeling van kritiek oor ras in die wetenskap en navorsing en vir die vestiging van verbandhoudende institusionele praktyke en prosesse,” lui die mosie wat die senaat – wat bestaan uit alle professore op kampus – op 31 Mei by sy tweede vergadering vir die jaar aanvaar het.

Die mosie word deur Maties beskryf as ’n “toegespitste en daadwerklike langtermyn- institusionele reaksie” op die kwessies wat in ’n onlangse omstrede vaktydskrifartikel oor ras en kognisie aan die lig gekom het.

Die akademiese artikel, getiteld “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women”, is aan die begin van Mei deur die uitgewer en redaksie van die internasionale vaktydskrif Aging, Neuropsychology, and Cognition onttrek nadat “daar vasgestel is dat daar ernstige foute in die metodologie en verslaggewing van die oorspronklike studie was”.

Gewraakte artikel het transforma­sie-agenda benadeel.

Die artikel het onder meer gekyk na die kognitiewe vermoë onder “jong, middelklas- bruin vroue”. ’n Afname in kognitiewe prestasie is gevind namate die vroue ouer raak, “met lae tellings vir verwerkingspoed wat reeds by jong volwassenes waargeneem is”. Luidens die artikel het bruin vroue in Suid-Afrika ’n groter risiko vir “lae kognitiewe prestasie” wat glo saamval met “lae onderwysvlakke en ’n ongesonde leefstyl en gedrag”.

Die navorsing is gedoen deur die departement sportwetenskap, wat sedert Januarie deel is van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Die artikel is in groot omstredenheid gehul, met verskeie akademici en kommentators in die massamedia wat die aannames en bevindings as rassisties beskryf het.

“Ons veroordeel ten sterkste die gebruik van stigmatiserende rasgebaseerde kategorieë in wetenskap en navorsing, soos blyk uit hierdie artikel,” lui die mosie.

“Ons ontken veral die voortsetting van koloniale en apartheidsnavorsingsdenke wat verbindings tussen ras, etnisiteit en spesifieke eienskappe of aanleg van ’n groep mense maak.”

Daar word beweer dat die artikel Maties se transformasie-agenda leed aangedoen het in ’n “baie onstuimige tyd in die geskiedenis van hoër onderwys in Suid-Afrika”.

Die nuut aanvaarde mosie vra onder meer dat:

¦ oorweging geskenk word aan die instelling van ’n toegewyde, kampuswye meganisme vir die transformasie van navorsing en wetenskap;

¦ oorweging geskenk word aan die aanbieding van ’n module oor teenrassisme, demokrasie en kritiese burgerskap vir alle eerstejaarstudente;

¦ die navorsingskantoor ’n stel kortkursusse vir alle personeellede aanbied oor onderwerpe soos “die gebruik van menslike kategorieë in navorsing en wetenskap”; en dat

¦ departemente soos gender- en kritiese rassestudie by die US se institusionele struktuur ingesluit word.

Die mosie is ingedien deur die politieke wetenskaplike prof. Amanda Gouws, die opvoedkundige prof. Aslam Fataar en die waarnemende hoof van die departement gemeenskapsgesondheid, prof. Usuf Chikte. Tien van hul kollegas het dit ondersteun.

Die mosie is eenparig aanvaar en die vier konkrete voorstelle is vir verdere ondersoek en hantering na die betrokke strukture verwys.

Dr. Leslie van Rooi, Maties se direkteur van sosiale impak en transformasie, sê die aanbevelings van die mosie moet nog op verskeie vlakke ondersoek word.

“Institusionele komitees wat fokus op leer en onderrig en navorsing is meestal senaatskomitees, so die komitees sal, soos wat tans die geval is, elke kwartaal terugvoering aan die senaat gee,” sê Van Rooi. Hy sê die module vir eerstejaars is nie ’n nuwe voorstel nie en dat daar reeds verskeie universiteite, “plaaslik en internasionaal”, is wat ’n weergawe van so ’n model volg.

Prof. Jimmy Volmink, dekaan van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, het op dieselfde senaatsvergadering verwys na die “skok en beroering” onder personeellede en studente in die departement sportwetenskap weens die artikel.

“Wat in hierdie departement gebeur het, kon in enige ander departement by hierdie universiteit, maar ook by ander universiteite in Suid-Afrika gebeur het. So, ek glo nie enige van ons kan op die morele hoë grond aanspraak maak nie,” het Volmink volgens ’n verklaring van die US gesê.

“Ek wil dit duidelik stel aan ons kollegas dat ons elke lid van hierdie departement koester en ook ons verantwoordelikheid aanvaar om met hulle saam te werk om die kwessies te probeer hanteer en te bepaal hoe dit in die toekoms vermy kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.