Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Deon Meyer ondersteun Maties-besluit
Deon Meyer Foto: Mlungisi Louw

Die bekende Afrikaanse skrywer Deon Meyer sê hy glo Afrikaans se toekoms is verstrengel met dié van Suid-Afrika. Afrikaans kan nie voortbestaan as Suid-Afrika se demokrasie nie gesond is nie.

“Die universiteit moet kyk wat die beste is vir die grootste groep en as dit Engels is, wat ek dink dit is, moet Afrikaners opofferings maak.

“Wat goed is vir Suid-Afrika is goed vir Afrikaans.”

Die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach het 'n ander siening.

Vrydag 13 November 2015 sal onthou word as die dag waarop die “onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid” van die Universiteit Stellenbosch se bestuur ontbloot is vir almal om te sien.

“Dis ’n skande wat onthou sal word,” skryf  Breytenbach in ’n brief aan die lede van die skrywersorganisasie PEN Afrikaans.

Die brief volg kort ná die Maties-bestuurspan se voorstel om Engels as omgangstaal te gebruik.

Breytenbach het die universiteit se bestuurspan gelooi en gesê dit is beledigend om te wil voorgee dat die voorstel gegee is met enige sin of begrip van wat ’n “universiteit behoort te wees en die waardes wat dit veronderstel is om te inkarneer.”

Die belediging strek ook tot die belange van die studente.

“Dit is aanstootlik dat ‘demokrasie’ soos ’n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is te probeer verdoesel”.

Breytenbach was nie die enigste in kunskringe wat nie ten gunste van die universiteit se voorstel is nie.

Vir die digter Jasper van Zyl is dit hartseer dat studente op universiteit aangemoedig word om enigiets te wees wat hulle wil, solank hulle net nie Afrikaans is nie.

Die sanger Chris Chameleon, wat ook heelwat reaksie met sy kommentaar op Twitter ontlok het, sê hy hoop nie die voorstel slaag nie.

“Dit is ’n kwessie van diversiteit en dit is vreemd dat in ’n poging om diversiteit (by Maties) te skep, bewys dit dat die taalrigting nie juis iets is wat diversiteit rugsteun nie.

“Dit (Engels as voertaal) is te maklik. Dit is die lui opsie. Wat van worstel met die probleem totdat jy ’n beter oplossing kry?”

Volgens Danie Marais, digter en bestuurder van PEN Afrikaans, sal die bekragtiging van die taalbeleidswysiging deur die US-raad ’n nekslag wees – nie net vir Afrikaans op tersiêre vlak nie, maar vir enige werklike meertaligheid, asook die onderwys in Suid-Afrika.

“Kan onderrig vir die meerderheid van ons land se mense in ’n tweede en derde taal die sleutel tot uitnemendheid, vooruitgang en helder denke wees? Ek glo nie.”

Die aktrise en sangeres Elzabé Zietsman sê ook dat dit ’n onbillike argument is om vir Afrikaans se voortbestaan as gevolg van die besluit te vrees.

“Die vrees dat Afrikaans gaan uitsterf, is ’n oordrywing.

“Solank daar mense is wat Afrikaans praat, maak dit nie saak of jy dan in Engels onderrig word nie. Ek het Afrikaans met ’n absolute passie lief, maar ’n mens kan nie vasklou aan die verlede nie.

“Ons moet groei saam met die wêreld en as dit is wat nodig is – so be it.”

Meer oor:  Afrikaans  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.