Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maties: Stryd oor taal ál warmer

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) word beskuldig dat hulle met pro-Engelse studenteorganisasies saamspan om teen “konserwatiewe groepe” te mobiliseer wat vir die behoud van Afrikaans by die universiteit veg.

Dr. Leslie van Rooi het namens die Universiteit Stellenbosch die eise van die DAK Netwerk in ontvangs geneem. Hier hou hy die eise vas terwyl hy met die media praat. Foto: Jaco Marais

Dit volg nadat die universiteit se transformasiekantoor die afgelope week gehelp het om ’n geleentheid van Open Stellenbosch te adverteer. Open Stellenbosch het in 2015 en 2016 meegewerk om die universiteit te dwing om Engels die primêre onderrigtaal op Stellenbosch te maak. Die organisasie het die afgelope week ná vyf jaar herrys om kapsie te maak teen groepe “wat druk op die Universiteit Stellenbosch uitoefen om Afrikaans weer die hoofonderrigtaal te maak”.

Pro-Afrikaanse studente voer egter aan dat Open Stellenbosch kon staatmaak op ondersteuning van die universiteit se transformasiekantoor toe hulle Donderdag- en Vrydagaand ’n filmvertoning gehou het wat hul doelwitte bevorder. Die 2015- dokumentêre film Luister is Donderdagaand op die Rooiplein op kampus vertoon, en Vrydagaand virtueel op die Zoom-platform aan studente gewys. In die film vertel swart en bruin studente hoe hulle uitgesluit voel weens institusionele rassisme by die US, wat die vorige taalbeleid insluit. Die vertoning is deur die transformasiekantoor met die hutsmerk #WeWillNotGoBack (met verwysing na die taalbeleid voor 2016) op sosiale media geadverteer.

Die nuwe konsepbeleid, waaroor studente en alumni tans kan kommentaar lewer, sê onder meer dat daar gedurende elke lesing alle inligting in ten minste Engels oorgedra word, “en word opsommings of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans voorsien”.

Ons taal, my moedertaal, sal nog vir baie geslagte met ons wees.
 Dr. Leslie van Rooi, die US se senior direkteur van maatskaplike impak en transformasie

Groepe soos die DAK Netwerk, die DA en StudentePlein, ’n studenteorganisasie, meen sulke afwykings beteken Afrikaanse lesings kan slegs in sekere omstandighede parallel tot Engelse lesings plaasvind, en dat die tale dus nie gelyk is nie.

Volgens Open Stellenbosch sal “kritieke progressiewe stappe” by die US egter tot niet wees indien daar nie “beslissende” stappe gedoen word om die huidige taalbeleid te beskerm nie. Hulle beweer “konserwatiewe groepe wat deur die DA gelei word”, word gemobiliseer om druk op die US uit te oefen om Afrikaans weer die hoofonderrigtaal te maak. Die organisasie het ook na ’n optog Vrydag van die DAK Netwerk, ’n belangegroep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, verwys as ’n optog vir “uitsluitende eise”.

Danie van Wyk, leier van die DAK Netwerk, het Vrydag se optog, wat politici, akademici en studente ingesluit het, na die US se hoofkantoor gelei. Hulle het ’n versoekskrif aan dr. Leslie van Rooi, die US se senior direkteur van maatskaplike impak en transformasie, oorhandig waarin hulle onder meer vra dat die US Afrikaans as ’n inheemse taal erken, en dit “as ’n volwaardige akademiese taal aangewend word”.

Van Rooi het in antwoord op ’n vraag van die media gesê: “Ons taal, my moedertaal, sal nog vir baie geslagte met ons wees.” Hy het ook gesê daar is ’n plek vir Afrikaans in skole en hoër onderwys, “maar Afrikaans moet binne verhouding met ander tale staan”.

Gevra of Open Stellenbosch deur die transformasiekantoor gevra is om toe te tree tot die taaldebat het Bradley Frolick, Open Stellenbosch-lid, gesê sulke gerugte is vals en dat die groep gesien het hul vordering van 2016 word bedreig, en daarom besluit het om hul stem dik te maak.

Frolick, seun van die ANC-LP Cedric Frolick, sê hul vrees is dat die aanvalle op die huidige taalbeleid “deur die DA en sy konserwatiewe meelopers” kan lei tot ’n terugkeer na die vorige Afrikaans taalbeleid wat ten koste sal wees van swart studente en fakulteite. Frolick meen die DAK gee voor hulle praat namens Afrikaanssprekende bruin mense, maar dat dit nie die geval is nie.

Die US het ook by navraag ontken dat die transformasiekantoor Open Stellenbosch se veldtog ondersteun.

“Dit is beslis nie ’n veldtog (die #WeWillNotGoBack-veldtog) of ’n hutsmerk op sosiale media van die transformasiekantoor nie,” sê die US.

“Die transformasiekantoor het wel die studente se uitnodiging (wat deur hulle ontwerp is) op sosiale media gedeel – soos wat dit verskeie gespreksgeleenthede op kampus adverteer. Ondersteuning vir die reël van gespreksforums kan nie gesien word as dat die transformasiekantoor of per implikasie die universiteit hulle met ’n beweging belyn of hul sentimente ondersteun nie.”

Gevra of die US of die transformasiekantoor vooraf met Open Stellenbosch vergader het voor hul toetrede tot die taaldebat, antwoord die US: “Daar was per se nie so ’n vergadering met Open Stellenbosch nie. Daar was wel ’n vergadering met studente onder leiding van die studenteraad, waar ’n personeellid in die transformasiekantoor genooi is om Donderdagaand aan die bespreking op die Rooiplein deel te neem.”

  • Intussen het die DA ’n petisie saamgestel wat deur meer as 5 000 mense onderteken is as deel van hul kommentaar oor waarom die huidige taalbeleid nie werk nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.