
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Maandag op ’n mediakonferensie in Rustenburg. Foto: GCIS
Matriekleerlinge sal nie meer hul Junie-eksamen skryf nie, maar slegs die eindeksamen in Desember.
Angie Matshekga, minister van basiese onderwys, het Maandagoggend op ’n mediakonferensie in Rustenburg, Noordwes, gesê die voorskrifte hieroor sal in die Staatskoerant gepubliseer word.
Gr. 12- en 7-leerlinge sou aanvanklik vandag (Maandag) teruggekeer het skool toe, maar dis Sondag op die nippertjie deur Motshekga uitgestel omdat baie skole nog nie gereed is nie.
Volgens Motshekga het haar departement veral baie navrae ontvang rakende die matriekeksamen.
“Dit is duidelik dat daar baie angstigheid oor hierdie aangeleentheid is en dat ons dit ook in die Staatskoerant moes publiseer aangesien dit ’n uiters sensitiewe aangeleentheid in die stelsel vir basiese onderwys is,” sê sy.
“Die Mei/Junie-eksamen vir kandidate wat vir die Senior Sertifikaat en die Nasionale Senior Sertifikaat geregistreer is, sal in November en Desember 2020 afgelê word, tensy daar onvoorsiende omstandighede is. In daardie geval sal ek, as minister, die nodige besluite maak.”
Volgens Motshekga het skole ook reeds ’n hele kwartaal aan die Covid-19-pandemie verloor en sal hulle waarskynlik nog meer dae verloor.
“Daarom moes ons innoverend in die wyse wees waarop ons die skoolprogram weer op die regte spoor sal kry. Vir ons om die verlore onderrig- en leertyd in te haal moes ons die skoolstelsel herontwerp, wat tot die aanpassing van skoolroosters en die hersiening van die kurrikulum ingevolge die Wet op Nasionale Onderwysbeleid gelei het.”
Dit het volgens Motshekga haar as minister bemagtig om oor ’n nasionale beleid vir kurrikulumraamwerk, sleutelsillabusse en ’n opvoedingsprogram te besluit.
“ ’n Kurrikulumwerkstroom, wat uit kurrikulumdeskundiges van die departement en van buite bestaan, bestuur hierdie aspek van die herontwerp van die kurrikulum voortdurend,” sê Motshekga.
“Omdat die voorskrifte van basiese onderwys nie staties is nie, sal ons altyd die geleentheid gebruik om die nodige aanpassings, indien nodig, te maak.”
Volgens haar het die staat van inperking baie lewens op baie vlakke geraak.
“Families is getraumatiseerd, mense het hul werk verloor en die skoolstelsel is tot stilstand geruk.”
Sy sê die departement het waargeneem dat skole hard werk om hul fisieke omgewing aan te pas – van die personeelkamers en klaskamers tot die speelterrein.
“Dit is nie ’n kwessie van ’n keuse nie. Almal van ons moet voldoen aan die vereistes vir ’n gesonde afstand rakende die gesondheids- en veiligheidsvereistes.”