Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Matrieks met uitstappie na Robbeneiland beloon

Sestig oud-leerlinge van Leonsdale in Kaapstad is Saterdag as beloning vir hul uitstekende matriekuitslae in 2020 op ’n “inspirerende reis” na Robbeneiland geneem.

Die oudmatrieks, hul onderwysers en skoolhoofde Saterdag op Robbeneiland. Foto: Verskaf

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, en Franchesca Walker, raadslid van wyk 26, het die uitstappie moontlik gemaak.

Erkenningsertifikate is aan die beste presteerders van die Hoërskool Elswood en die Hoërskool Elsiesrivier oorhandig voordat die groep Robbeneiland besoek het.

Walker se kantoor het vir die opvoedkundige besoek betaal. Dit dien as ’n “opheffingsinisiatief” vir die jeug om Robbeneiland as ’n simbool van hoop te besoek en hulle “verder te motiveer om die uitdagings van hul omgewing te oorkom”.

“Hierdie jong mense woon in uitdagende omgewings wat deur misdaad gery word. Ten spyte daarvan kon hulle indrukwekkende uitslae behaal. Dit is ’n wonderlike voorbeeld van hoe jou omgewing nie jou toekoms hoef te bepaal nie,” het Plato gesê.

Hy het daarop gewys dat die Hoërskool Elswood byvoorbeeld, ondanks die uitdagings van die nasionale staat van inperking, asook die misdaad en werkloosheid in hul gemeenskappe, in 2020 ’n slaagsyfer van 83,8% teenoor 55% in 2019 behaal het.

Die skool se getal matrikulante met matriekvrystelling het van 12 in 2019 tot 28 in 2020 gestyg.

Heel links staan Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, en raadslid Franchesca Walker heel regs by die top-matrikulante van 2020 van Leonsdale in wyk 26. Van links is El’-Assur Scritten (Elsiesrivier Höer), Lorcia Koopman (Hoërskool Elswood), Alex-Zandre Kramm (Hoërskool Elswood), Jade Jacobs (Elsiesrivier Hoër), Liam Hartogh (Hoërskool Elsiesrivier) en Wesley Swartz (Hoërskool Elswood). Hulle hou elkeen hul erkenningsertifikate vas wat hulle voor die reis na Robbeneiland ontvang het. Foto: Verskaf

“My boodskap aan die jeugdiges is om voort te gaan met hul opvoeding. Ek hoop die groter boodskap wat Robbeneiland verteenwoordig – om struikelblokke te oorkom en nooit op te gee nie – motiveer hulle verder om in hul toekoms te glo,” het Plato gesê.

Volgens Walker wou sy hê die jong mense moet sien hul harde werk werp vrugte af.

“Ondanks bendegeweld en verskillende moeilikhede in hul huise, doen hulle moeite en volhard in hul prestasies. Sommige het selfs familielede wat by bendes betrokke is, maar hulle kies ’n ander pad om ’n beter toekoms vir hulself te skep,” het sy gesê.

Wesley Swartz, oudleerling van die Hoërskool Elswood, was een van die beste presteerders. Hy het vier onderskeidings verwerf en was ook die skool se hoofseun. Hy studeer tans regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

“Ek woon in ’n gemeenskap waar baie bendegeweld voorkom en dit kan dit baie moeiliker maak om jou doelwitte te bereik,” het hy gesê. “Die ding waarmee ek die meeste gesukkel het, was om weg te kom van die denkwyse dat waar ek nou is, al is wat die wêreld bied.

“Ek het my omstandighede as motivering gebruik. Die boodskap wat ek op die Robbeneiland-besoek gekry het, was die waarde van onderwys. Hoewel die politieke gevangenes aangehou is, was hulle hoopvol en het hulle verder studeer as ’n manier om hul opvoeding te bevorder,” het hy gesê.

Lede van die groep presteerders besigtig die gedenkplaat in die B-afdeling se tuin langs die selle waar oudpres. Nelson Mandela 18 jaar deurgebring het. Foto: Verskaf

Meer oor:  Matriekuitslae  |  Matrieks  |  Robbeneiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.