Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Matrieks, onnies werk hard vir Vrystaat-prestasie
Frank Letseleha en sy pa, Ephraim Radebe. Frank is as die beste presteerder van die Thiboloha School for the Deaf and Blind in die Vrystaat aangewys. Sy pa is die onderhoof van dié skool, waar die matriekslaagsyfer met bykans 60% verbeter het. Foto’s: Elizabeth Sejake

Vir die matriekklas van die Le Notsi ­Secondary School in Deneysville in die Vrystaat het elke skooldag verlede jaar om 06:00 begin en eers om 17:00 klaar gemaak.

“En toe het ons aandklasse ook gehad,” sê Thembi Motsiri, die skoolhoof, oor haar skool se drastiese verbetering.

Die skool het dieselfde onderwysers met dieselfde hulpbronne gehad.

“Die leerlinge wou nie dieselfde foute maak as die leerlinge van 2015 nie. Hulle was vasbeslote om goed te vaar en hulle het die harde werk ingesit.”

In 2015 het dié skool net ’n 48%-slaagsyfer gehad, maar die afgelope week was dit 86%.


Dit is skole soos dié se verbetering wat die Vrystaat in ’n verrassende wending boaan die prestasieleer geplaas het.

Dié provinsie se slaagsyfer het van 81,6% tot 88,2% gestyg.

Die ingrypings vanjaar was werklik van gehalte en die LUR vir onderwys het groot insette gelewer. Paul Sauer

“Dit is baie vreemd dat die Vrystaat skielik die beste gevaar het,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

“Ons weet daar is die laaste paar jaar niks uitsonderlik gedoen om die gehalte van onderwys hier te verbeter nie.”

Die provinsie het boonop baie minder kandidate ingeskryf as die vorige jaar, wat die vraag laat ontstaan of net die sterkste kandidate geskryf het terwyl die res teruggehou is.

Nic Spaull, onderwyskenner aan die Universiteit Stellenbosch, sê die drie provinsies wat die grootste verbeterings in slaagsyfers getoon het (die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal) is ook die provinsies wat die grootste daling in die getal kandidate gehad het.

Leerlinge en onderwysers in die Vrystaat het die afgelope week aan Rapport gesê dit is nie net drastiese stappe soos nuwe personeel en infrastruktuur wat die verskil kan maak nie: dit verg regtig net harde werk.

Benedict Thomas (18) van die Sandersville Combined School in Heilbron, Vrystaat, is die skool se topmatriekpresteerder. Dié skool se matriekslaagsyfer het van 78% in 2015 tot 100% verlede jaar gestyg.

Die Xhariep-distrik, wat in 2015 die 78ste plek ingeneem het, is nou die tweede beste distrik in die land.

“Die goeie matriekuitslae wat veral in die Xhariep-distrik behaal is, is te danke aan akademiese verrykingsklasse wat deur jong ingenieurs van Denel aangebied is,” sê Zwelakhe Ntshepe, waarnemende uitvoerende hoof van Denel.

“Denel is verlede jaar deur die Vrystaatse departement van onderwys genader om winterskole en akademiese programme aan te bied en het in Julie en Oktober in Trompsburg, Zastron, Faure­smith en Olien klasse in wiskunde en wetenskap aangebied.”

Die Fezile Dabi- en Thabo Mofutsanyana-distrik in die Vrystaat is onderskeidelik derde en sesde met slaagsyfers van 91,8% en 90%.

Sommige skole hier se slaagsyfers het tussen 2015 en 2016 met soveel as 50 persentasiepunte verbeter.

Die Thiboloha School for the Deaf and Blind in Witsieshoek se slaagsyfer het binne ’n jaar van 16,7% tot 71,4% gespring en die Libertas-skool se slaagsyfer het van 52,4% tot 96% verbeter.

“Ons het ’n doel vir onsself gestel en daarvoor gewerk,” sê Ephraim Radebe, onderhoof van Thiboloha.

“Ons het besluit om vir dae lank intensief aan sekere vakke te werk en vir 52 dae op ’n kamp gegaan waar ons die leerlinge se selfone weggevat het sodat hulle op skoolwerk kon fokus.”

Frank Letseleha (18) van die skool vir blindes is die provinsie se toppresteerder vir spesiale skole.

“Ek was nog nooit ’n kruiwa nie. Ek wil nie hê mense moet my stoot om vorentoe te gaan nie. Ek het self die werk gedoen. Ek wou goed doen en ek wou my ouers trots maak.

“Ek wil graag BEd (onderwys) gaan studeer, want ek wil teruggee aan die gemeenskap in Phuthaditjhaba. Ek wil ook vir die ander leerlinge wys dat jy kan uitstyg en goed vaar in enige omstandighede.”

Die redes vir die Vrystaters se skielike uitstyging is waarskynlik veelvuldig en meer ingewikkeld as om te sê studente het maar net hard gewerk of die antwoordstelle is lig nagesien, sê Paul Sauer, SAOU-hoof in die Vrystaat.

Oorgeplaaste leerlinge wat die eksamen in twee fases skryf, het ’n groot verskil in die slaagsyfer gemaak. Dit is leerlinge wat van gr. 11 af oorgeplaas is sonder om te slaag. Dít het ’n uitwerking op die uitslae omdat daardie leerlinge se uitslae nie nou in berekening gebring is nie, sê hy. Hulle sal die res van hul vakke eers in Junie skryf.

“Maar ons moet die Vrystaat erkenning gee. Die ingrypings vanjaar was werklik van gehalte en die LUR vir onderwys (Tate Makgoe) het groot insette gelewer om onderwys in dié provinsie te verbeter.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Beheerliggame (Fedsas), sê ook die Vrystaatse onderwysdepartement het baie hard gewerk. “Die provinsiale departement het geld gegee vir winterskole en kampe waar leerlinge ekstra hulp kon kry.”

Meer oor:  Deneysville  |  Matriek 2016
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.