Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Matrieks wat positief toets, kan eksamen eers in 2021 herskryf

Matrieks wat gedurende vanjaar se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS), oftewel die matriekeindeksamen, positief vir die koronavirus toets, sal die eksamen eers volgende jaar kan afhandel.

Die departement van basiese onderwys het Woensdag bevestig dié leerlinge sal die vakke wat hulle gemis het in 2021 se Mei/Junie-eksamen kan afhandel.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, sê onder normale omstandighede sal enigiemand wat die eksamen om mediese redes mis, dit gedurende die volgende beskikbare geleentheid afhandel.

“In hierdie geval is dit Mei en Junie. Dis ons almal se verantwoordelikheid om die gesondheids- en veiligheidsmaatreëls na te kom,” sê hy.

Luidens die departement se protokol vir die skryf van vanjaar se eindeksamen moet matrieks wat positief vir die koronavirus toets en vir tien dae in selfisolasie moet gaan, as “999” op die teenwoordigheidslys aangeteken word. Dit beteken die kandidaat is met ’n geldige rede afwesig.

Dié matrieks moet outomaties weer geregistreer word om die vraestelle wat hulle gemis het, in 2021 se Mei/Junie-eksamen te skryf.

Indien ’n matrikulant van die koronavirus herstel het en dit met ’n bewys kan bevestig, mag hulle die oorblywende vakke skryf.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê indien ’n matriekleerling om enige rede, wat mediese redes insluit, nie vanjaar die eindeksamen kan skryf nie, is daar geen tussentydse of ander geleenthede voor die Mei/Junie-eksamen nie.

Hy het ook verwys na die voorval waar 37 matrieks in die Wes-Kaap die koronavirus opgedoen het nadat hulle ’n geleentheid by die kroeg Tin Roof in Claremont bygewoon het.

“Dis die beste om omsigtig te wees. Dis ’n kort rukkie voordat jy jou vryheid het. Wees gedissiplineerd voordat en terwyl jy die eksamen skryf en daarna is jou lewe in jou hande.

“As jy nie die eksamen skryf nie, kry jy nie ’n kwalifikasie nie en kan jy nie na ’n tersiêre instelling toe gaan nie,” sê Manuel.

“Moenie roekelose dinge doen wat jou vermoë om die eksamen te skryf kan beïnvloed en jou hele jaar kan bederf nie. Die geleentheid van ’n leeftyd kan ook dan vir jou verlore wees.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê sover sy kennis strek, is daar nie ’n ander alternatief vir matrieks wat die eksamen misloop nie.

“As die eerste geleentheid vir die ‘herskryf’ van die vraestel middel volgende jaar is, dan is dit so. Dis ook hoe ons die prosesse verstaan weens die laat bekendmaking van die matriekuitslae,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.