Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Matrikulant van 2019 kom uit verre Noorde
Pieter Hoogenboezem, matriekleerling van die Hoërskool Pietersburg, is vanjaar die UV en Volksblad se Matrikulant van die Jaar.Foto: Charl Devenish

Die trane het gevloei toe ’n matriekseun al die pad van ’n klein dorpie in die verre noorde van Suid-Afrika Saterdag gekroon is as die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Volksblad se Matrikulant van die Jaar vir 2019.

Op ’n glansgeselligheid in die Eeufeessentrum op die hoofkampus van die UV in Bloemfontein, is Pieter Hoogenboezem, onderhoofseun van die Hoërskool Pietersburg, onder dawerende applous as wenner aangewys.

Hy het ook prysgeld as die naweek se Vonkelpersoonlikheid ontvang.

Hy is die 39ste wenner van dié jaarlikse kompetisie vir uitblinker-matrikulante wat volgende jaar aan die UV wil studeer.

So trots op hul seun. Eldi, Pieter en Hans Hoogenboezem.Foto: Charl Devenish

Pieter, wie se ouers, Eldi en Hans Hoogenboezem, in Tolwe in Limpopo naby Suid-Afrika se grens met Botswana woon, sê hy kan nie wag om volgende jaar aan Kovsies medies te kom studeer nie. Hy sê hy wil ’n algemene praktisyn word eerder as om te spesialiseer, omdat hy graag met mense en spesifiek families wil werk.

Oor sy seun se prestasie sê Hans: “Dit maak ’n mens nederig as jy sien hoe jou seun tussen so ’n klomp diamante uitblink. Ons is so trots op hom.

Hans Hoogenboezem wens sy seun geluk met sy aanwysing as Matrikulant van die Jaar.Foto: Charl Devenish

“Ek het jare gewag om my PUK-kleurbaadjie te kry, en daar kry jy een nog voordat jy begin swot het”, het Hans goedig vir sy seun gesê nadat hy ’n UV-baadjie ontvang het.

Pieter speel rugby en sokker vir sy skool se eerste spanne, neem deel aan atletiek en het verlede jaar aan muurbal en hokkie deelgeneem. Hy sing gereeld solo by sy skool se musiekgeleenthede soos revue.

Pieter sê sy groot rolmodel was sy boetie Jo (20), wat twee jaar gelede aan malaria dood is. Hy het nog ’n broer, Anton (21), wat in Baltimore in Limpopo bly en as meulmaker werk.

Hans Hoogenboezem wens sy seun, Pieter, geluk nadat hy aangewys is as die Matrikulant van die Jaar terwyl sy ma, Eldi, bewoë toekyk.Foto: Charl Devenish

Twee ander finaliste is vereer vir buitengewone prestasies wat hulle behaal het.

Mandie de Wet van die Hoër Meisieskool Oranje is vereer vir haar prestasies in hokkie en Runé Edeling van die Eunice High School is vereer vir haar prestasies in die Eskom-ekspo vir Jong Wetenskaplikes en as beste perderuiter in haar klas in Suid-Afrika.

Esmé Aucamp, voorsitter van die beoordelaars en verteenwoordiger van die Alumni-trust, sê oor vanjaar se 14 finaliste dit was baie moeilik om uit ’n groep wenners één wenner aan te wys.

“Vanjaar se groep was uniek, nederig en het almal op hul eie gebied uitgeblink.”

Aan die groep finaliste het prof. Francis Petersen, UV-rektor en visekanselier, gesê dié nuwe groep toekomstige studente moet help om die UV ’n beter plek te maak. “Julle sal ook moet help om die wêreld ’n beter plek te maak.”

  • Twee spesiale blaaie oor die Matrikulant van die Jaar-beoordeling en galageleentheid wat die naweek in Bloemfontein plaasgevind het, verskyn Dinsdag in Volksblad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.