Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Mediese student by Maties geskors ná hy vrou glo aanrand

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n student op sy Tygerberg-kampus tydelik geskors hangende ’n ondersoek nadat hy van aanranding beskuldig is.

Huis Ubuntu op die Tygerberg-kampus van die US waar die voorval plaasgevind het. Foto: sun.ac.za

Die student, glo in sy finale jaar in sy mediese studies, het na bewering Vrydag in die vroeë oggendure ’n vroulike medestudent aangerand in Huis Ubuntu, ’n koshuis op die Tygerberg-kampus.

Die aanranding is glo Vrydag by die polisie aangemeld, maar woordvoerders kon dit nie betyds bevestig nie.

Die slagoffer het berading ontvang wat met verdere ondersteuning opgevolg sal word, het die US in ’n verklaring gesê. “Die manlike student is nie meer in sy koshuis of op kampus nie.”

Luidens ’n aanlyn petisie wat reeds meer as 19 000 handtekeninge het, het die man die slagoffer, in haar derde jaar, na bewering aangerand nadat sy seksuele toenadering van hom geweier het.

Sy is na bewering in die gesig geslaan en oor die tralies van die koshuis se balkon laat hang, waar sy “geveg het vir haar lewe”.

’n Foto van ’n vrou, glo die slagoffer, met ’n potblou en geswelde oog is wyd op sosiale media gedeel, asook ’n onduidelike video wat glo wys hoe die polisie die man van die kampus wegneem.

“Ingevolge die dissiplinêre kode vir studente is die man se tydelike skorsing onderhewig aan ’n verhoor deur die universiteit se dissiplinêre komitee wat binne vyf dae ná die tydelike skorsing gehou moet word. Verdere stappe sal volg afhangende van die uitkoms van die dissiplinêre prosedures,” lui die US se verklaring.

Dr. Choice Makhetha, hoof van studentesake, sê: “Ek is saam met die universiteit en die bestuur van Tygerberg diep bekommerd oor die voorval.

“Die US duld geensins geslagsgeweld nie en sal nie huiwer om op grond van ’n deeglike ondersoek en dissiplinêre proses op te tree nie. Die instelling is daartoe verbind om ’n omgewing te skep waar geen geslagsgeweld voorkom nie en waar gelyke regte vir almal bevorder word.”

Die fakulteitsbestuur het hul waardering uitgespreek vir die pogings van studenteleiers en die universiteitsgemeenskap op die Tygerberg-kampus om te verseker dat die voorval dringend aandag geniet,” sê prof. Nico Gey van Pittius, waarnemende dekaan van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

“Ons doen ’n beroep op die hele Tygerberg-gemeenskap om saam te werk om geslagsgeweld die hoof te bied.”

Beradingsdienste is beskikbaar vir studente wat geraak word, sê die US.

Die slagoffer is deur middel van ’n verteenwoordiger vir kommentaar genader, maar wou nie oor die voorval praat nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.