Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Meer vrae as antwoorde oor skole,’ sê Fedsas

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) is nie oortuig dat alle skole gereed sal wees om op 1 Junie te heropen nie, en sê op grond van die talle navrae ná die onderwysdepartement se mediakonferensie, is daar duidelik nou meer vrae as antwoorde.

Angie Motshekga
Angie Motshekga

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Dinsdag op die nuuskonferensie aangekondig gr. 12- en gr. 7-leerlinge sal op 1 Junie terugkeer skool toe. Die datum vir ander grade sal mettertyd aangekondig word. Onderwysers sal op 25 Mei terugkeer. Die nasionale Covid-19-bevelsraad en die kabinet het dié plan goedgekeur.

Die federasie het Woensdag op ’n aanlyn inligtingsessie vir skole advies oor verskeie kwessies oor die heropening van skole gegee.

Paul Colditz, voorsitter van Fedsas, sê hoewel daar aangekondig is dat planne beraam word vir onder meer vervoer, skoolvoedingsprogramme en mense met onderliggende gesondheidstoestande, is dit kommerwekkend dat die provinsiale departemente dié planne moet in werking stel.

“Dit is ontstellend dat ons weet nie almal is gereed nie. Daar is provinsies waaroor ons ernstige bedenkinge het. Daar is twee skooldae oor voordat die onderwysers moet terugkeer en sewe skooldae oor voordat die skole heropen vir gr. 12 en gr. 7,” sê hy.

“Ons weet in Limpopo het dit jare se hofsake gevat om die departement sover te kry om handboeke af te lewer. Nou moet hulle binne ’n kwessie van ’n paar dae miljoene maskers en ontsmettingsmiddels aflewer.”

Jy sou byvoorbeeld die eerste 50% Maandag laat skool bywoon en die res Dinsdag, of die helfte kom een week skool toe en die ander helfte volgende week.

Volgens Colditz is daar Sondag op ’n vergadering met Hubert Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, ’n plan voorgehou waarmee die federasie tevrede was. Volgens dié plan sou van die laer grade vóór gr. 7 ingefaseer word. Teen Dinsdag was dié plan egter van die tafel af.

“Sondag se plan sou beteken dat ’n laerskool vir alle grade kan heropen op voorwaarde dat nie meer as 50% van die kinders terselfdertyd by die skool is nie. Jy sou byvoorbeeld die eerste 50% Maandag laat skool bywoon en die res Dinsdag, of die helfte kom een week skool toe en die ander helfte volgende week. Dit kon moontlik ’n bestuurbare situasie gewees het,” sê hy.

Die federasie het die volgende vrae tydens ’n aanlyn sessie beantwoord:

Wie moet op 25 Mei aanmeld?

Colditz sê daar is nie onderskeid getref tussen die personeel wat op 25 Mei moet aanmeld nie. Dit is klaarblyklik alle personeellede.

Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, verduidelik dat die regulasies nie die Skolewet herroep nie en dat onderwysers nie net kan wegbly nie.

“As jou werkgewer sê jy moet teruggaan werk toe, is dit ’n opdrag. Jy kan teruggaan en as jy dan voel dis onveilig, vir jou lynhoof sê jy onttrek jouself. Maar moet nie net wegbly nie, want dan het jy ’n arbeidsregkwessie.”

Watter skole sal op 1 Junie heropen?

Hoewel daar vroeër bespiegel is dat skole in die metrogebiede, die sogenaamde brandpunte, dalk eers later gaan heropen, het Motshekga Dinsdag gesê die datums geld alle skole.

Onderliggende gesondheidstoestande (leerlinge)

Fedsas raai ouers aan om skole te kontak en ’n reëling te tref as die leerling by die huis moet bly.

Deacon verduidelik daar is ’n verskil tussen ’n leerling van ’n openbare skool wat van afstandsonderrig gebruik maak en ’n leerling wat uit die skool gehaal word.

“As jy jou kind uit die skool neem, word jy ’n tuisonderrig-ouer en die kind word ’n tuisonderrig-leerling. Dan moet jy deur die formele registrasieproses gaan. Jou kind is dan nie meer ’n leerling van die openbare skool nie”

Onderliggende gesondheidstoestande (personeel)

Personeel word aangeraai om hul werkgewer so gou as moontlik te kontak sodat alternatiewe reëlings getref kan word.

“Die departement van gesondheid is veronderstel om ’n dokument te publiseer om vir werknemers leiding te gee. Daardie riglyne sal ook op beheerliggaam-personeel van toepassing wees,” sê Deacon.

Die ontsmet van skole voor heropening

Fedsas sê die sogenaamde “diep skoonmaak” of ontsmetting van skole voordat hul heropen is onnodig, omdat die virus nie langer as 72 uur op ’n oppervlakte kan oorleef nie.

“Skole is sedert 18 Maart gesluit. Daar is geen kans dat die virus kon oorleef in ’n skool wat toe gestaan het nie,” sê Colditz.

Getal leerlinge in klas

“In dié stadium moet ’n afstand van 1,5 m gehandhaaf word. As jy nie daardie afstand kan handhaaf met 40 leerlinge in ’n klas nie, beteken dit jy sal noodgedwonge twee klaskamers moet gebruik en personeel anders moet aanwend. Tegnologie sal ook ingespan moet word,” sê Deacon.

Buite-kurrikulêre program

Deacon verduidelik as daar minder onderrigtyd is, beteken dit buite-kurrikulêre aktiwiteite moet afgeskaal of geskrap word, selfs as ’n veilige afstand gehandhaaf kan word.

“Die grootste prioriteit is om matrieks gereed te kry vir die eksamen. Ek weet daar word na ’n matriekafskeid uitgesien en dis vir baie ’n hoogtepunt, maar onder abnormale omstandighede behoort dit nie ons grootste prioriteit te wees nie.”

Aangepaste kurrikulum

Die matrieks se kurrikulum gaan nie verander nie.

“Ons verwag dat die gr. 7’s se kurrikulum teen 1 Junie bekend sal wees, anders gaan ons ervare onderwysers moet vertrou wat sal weet wat die kernaspekte in die vakgebiede is,” sê Deacon.

Die duur van die skooldag sal ook deur die nuwe kurrikulum bepaal word.

Die gebruik van klasse

Deacon stel voor dat beweging beperk word en dat onderwysers eerder as leerlinge klasse wissel, behalwe vir spesialis-klasse, wat vir elke groep leerlinge ontsmet moet word.

Moet personeel skoonmaak en sifting hanteer?

Fedsas sê volgens Mweli se voorlegging sal elke provinsie sy eie plan moet opstel.

“Van die provinsies wil onderwysers gebruik, Gauteng wil jong werklose mense oplei om sifting by skole te hanteer en sommige provinsies wil van die mense betrokke by die departement van openbare werke se uitgebreide werksprogram gebruik.

“Ons is bekommerd dat van die mense nie gaan weet hoe om met kinders te werk nie. Skoolhoofde moet ’n oriënteringsessie met dié mense hê oor hoe ons met kinders praat en hulle hanteer.”

Meer oor:  Fedsas  |  Paul Colditz  |  Angie Motshekga  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.