Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Meertaligheid maak jou nie minder Afrikaans’

Afrikaanssprekendes se beywering vir die behoud van Afrikaans aan universiteite kan beskou word as ’n voorwendsel vir die behoud van ’n status quo van ongelykhede.

Dít is een van die maniere hoe sommige Afrikaanses se reaksie op pleidooie vir meertaligheid beskou kan word, sê prof. Mamokgethi Phakeng, nuwe adjunkvisekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK).

“Taal is ’n verteenwoordiger van ras in baie dele van die wêreld waar verskeie ongelykhede in taalongelykheid weerspieël word.”

Prof. Mamokgethi Phakeng meen taal en politiek kan nie van mekaar geskei word nie. Foto: Lucky Nxumalo

Plaaslik kan die teenstand teen Afrikaans beskou word as deel van die stryd teen ander ongelykhede.

Meertaligheid, sê Karien Brits, taalbestuurder van die ATKV, is nie as die inwoners van Soweto Afrikaans kan praat nie.

“Jy moet ook Setswana in Randburg hê.”

Phekang en Brits, asook Maylene Basson, leerondersteuningsadviseur van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het Saterdag aan ’n diskoers oor meertaligheid by die Woordfees op Stellenbosch deelgeneem. Al drie was dit eens dat meertaligheid ’n noodsaaklikheid eerder as ’n keuse is.

Met betrekking tot protesaksies oor die onderrigtale by verskeie universiteite landwyd, het Phakeng gesê sy dink baie mense, ook talle AfriForum-lede, besef nie dat die stryd om meertaligheid by tersiêre instellings nie oor Afrikaans as sodanig is nie.

“Politiek en taal kan nié van mekaar geskei word nie.

“Taal is veel eerder skietgoed wat deur groepe vir politieke doeleindes gebruik word,” het Phakeng telkens benadruk.

“Die ongelukkigheid is eintlik gevestig in ongelykheid wat die groepe desperaat wil pak.”

Brits meen baie Afrikaanssprekendes is bang vir meertaligheid omdat hulle nie dink hul taal is deel van die “meertaligheidpakkie” nie en dat dit verlore sal gaan.

“Jy hoef nie jou moedertaal in te boet nie,” is Basson se mening.

“Dit maak jou nie minder Afrikaans om meertalig te wees nie. Meertaligheid is noodsaaklik omdat almal die reg het om op tersiêre vlak te studeer.”

Phakeng het telkens benadruk dat taal nie iets heilsaams is nie. Die verband wat mense tussen ras, taal en mag trek, kan ook nie geïgnoreer word nie.

“Taal is nie oor koekies en koffie nie. Dit is ’n politieke instrument. Dit word gebruik om groepe uit te sluit.

“Dit word gebruik om mag te bepaal.”

Phakeng is, soos Brits, nege tale magtig en het vooroordele wat aan taal verbind word, hetsy met betrekking tot ras of die die vlak van mag wat dit inhou, uitgewys deur haarself as voorbeeld te gebruik.

“As ek my standpunt in Afrikaans gelewer het, sou julle anders op my reageer het.

“Net so, as my Engels nie goed genoeg was nie, al was ek die slimste mens op aarde, maar ek kon net Setswana praat, sou mense gedink het ek is dof.”

Blade Nzimande waarsku studente teen rasse-konflik
Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, sê betogende studente se anti-wit-sentimente kan tot rasse-konflik lei.

Sy waarskuwing kom teen die agtergrond van studente van die Universiteit van die Witwatersrand wat in die onlangse tyd t-hemde met die woorde “F*ck white people” gedra en soortgelyke graffiti teen die mure geverf het, berig Sunday Times.

Die studente het aangevoer swart mense kan nie rassisties wees nie, omdat “mag en bevoorregting” nodig is voordat jy rassisties kan wees.

Nzimande meen die studente doen meer kwaad as goed in die stryd vir nie-rassigheid.

Hy het ook gewaarsku teen aanvalle op Afrikaans as ’n onderrigtaal, berig die Sondagkoerant. Hy het in die onderhoud uitgewys Afrikaans is ’n amptelike taal en sy grootste groep sprekers is die werkersklas van die Wes-Kaap. - Claudi Mailovich

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.