Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Meintjes van Mediclinic is Kovsies se Alumnus vir 2018

Die oud-Kovsie Danie Meintjes, voormalige uitvoerende hoof van die hospitaalgroep Mediclinic, is Saterdagaand op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein as sy Alumnus van die Jaar vir 2018 aangewys.

Danie Meintjes, wat tot onlangs nog uitvoerende hoof van Mediclinic International was voordat hy afgetree het, is Saterdagaand as die Kovsies se Alumnus vir 2018 vereer.Foto: Verskaf

Dit was op die 36ste Kanseliers Alumni-toekennings vir uitnemendheid.

Meintjes kon weens ander verpligtinge nie die geleentheid bywoon nie, maar het ’n boodskap gestuur waarin hy die UV groot lof toegeswaai het.

Meintjes is vereer vir sy blink loopbaan by Mediclinic waarin hy hom onderskei het voordat hy in Augustus vanjaar afgetree het.

Volens die oorkonde is hy op 1 April 2010 as uitvoerende hoof van Mediclinic aangestel nadat hy hom in 1985 by die groep aangesluit het. Hy was voorheen by die mensehulpbronneafdeling van die Rembrandt-groep werksaam.

Hy was aanvanklik die bestuurder van die Sandton Mediclinic in Johannesburg voordat hy aangestel is as die hoof van die mensehulpbronneafdeling van Mediclinic.

Hy was vanaf 1996 lid van Mediclinic se uitvoerende bestuurskomitee.

Volgens die oorkonde is hy in Januarie 2006 na Dubai gesekondeer waar hy uitvoerende hoof van Emirates Healthcare was, die maatskappy wat Mediclinic se aktiwiteite in die Verenigde Arabiese Emirate bedryf.

Hy het in 2010 uitvoerende hoof van Mediclinic geword, en in 2016 uitvoerende hoof van die vergrote groep.

In sy 34 jaar by Mediclinic het hy hom onderskei as iemand wat op besonderse wyse elke probleem getakel en opgelos het, is Saterdagaand op die geleentheid gesê.

Mediclinic is nou een van die tien top-gesondheidsorg-operateurs in die wêreld.

Na sy aftrede in Augustus vanjaar beklee hy die pos van nie-uitvoerende direkteur op die direksie van Mediclinic International.

Hy het ook as nie-uitvoerende direkteur van die Spire Healthcare-groep van Augustus 2015 tot Mei 2018 gedien.

Ace Moloi, skrywer en konsultant, wat as Jong Alumnus van die Jaar aangewys is, (middel) saam met dr. Pieter du Toit, Kovsies Alumni se voorsitter (links), en prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier. Foto: Marietjie Gericke

* Ace Moloi, skrywer en literêre konsultant, is as die Jong Alumnus van die Jaar vereer.

Moloi werk vir homself nadat hy in 2013 ’n BA-graad in kommunikasiewetenskappe (korporatiewe en bemarkingskommunikasie) aan die UV behaal het.

Hy het sy eie digitale mediamaatskappy gestig wat spesialiseer in nuusdekking op sosiale media, die skryf van inhoud en die bestuur van sosiale media.

Hy is ’n profielskrywer en outeur van drie boeke; In Her Fall Rose a Nation (2013), Holding my Breath (2016), en Tholwana Tsa Tokoloho (2018). Holding my Breath is in die Pan-African-skrywerskatalogus opgeneem wat deur Exclusive Books saamgestel word.

Moloi was uitgenooi na verskeie boeke-feeste en was een van die jongste moderators by vanjaar se Vrystaatse Literêre-fees.

Moloi het skryf-opleidingsessies vir die UV in Bloemfontein en Qwaqwa gefasiliteer, en was die mede-skrywer van ’n reeks stories deur studente as deel van ’n inisiatief van die UV vir kreatiewe narratiewe deur Afrikane.

Moloi het in Qwaqwa grootgeword en in sy matriekjaar was hy onder die top-10- akademiese presteerders in die provinsie. Hy het daarna BA-kommunikasiekunde gaan studeer, waarin hy homself onderskei het.

Hy was vroeg reeds by die mediabedrywighede op kampus betrokke. Hy was later nuusredakteur van die kampus-koerant, Irawa Post.

Hy het in 2011 deel geword van die F1 Leierskap vir Verandering-program waarvoor hy verkies is, en is na Japan om in veranderings-leierskap en diverse bestuur te gaan studeer.

Hy het in 2012 die SOMAFCO Trust-opstelwedstryd gewen en het deelgeneem aan die O.R. Tambo Edu-Tour na Mosambiek, Swaziland en Tanzanië.

Die kanselier van die Universiteit van die Vrystaat, dr. Khotso Mokhele (links), wens hier vir prof. Dave Lubbe, navorsingsgenoot en professor aan die Skool vir Rekeningkunde aan die UV, geluk met die hoofbestuur-prys wat hy ontvang het. Foto: Marietjie Gericke

* Prof. Dave Lubbe, navorsingsgenoot en professor aan die Skool vir Rekeningkunde aan die UV, het die hoofbestuur-prys ontvang.

Die eerste Afrikaanse handboek oor ouditering het uit sy pen gevloei. Hy was ook die eerste persoon in Suid-Afrika wat ’n doktorsgraad in ouditkunde behaal het en die eerste ontvanger van die Ernst & Young Rekeningkunde- navorsingsprys vir uitmuntendheid in 2002. Hy dien tans as buitengewone professor in rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch en tree gereeld in die buiteland op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.