Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Met ’n vol maag skryf antie Louise se matrieks dat dit klap
Ma- en dogter-span Louise Hendricks en haar dogter, Carol-Ann Johnson, die afgelope Donderdag besig om die middagete aan die 40 matrikulante te bedien, voor hulle die Afrikaans Addisionele Taal Vraestel 3 gaan skryf. Foto: Jaco Marais
Gabieba Daniels (18), ’n matrikulant aan die Hoërskool Voorbrug in Delft, skep vir haar mede-matrikulante aartappelslaai in. Foto: Jaco Marais
Voorslagvrou: Louise Hendricks

Toe Louise Hendricks se seun, wat in die skoolkoshuis op Beaufort-Wes was, in 2011 matriek geskryf het, het sy so gewens hy was nader sodat sy hom soggens met ’n lekker ontbyt kon bederf voordat hy gaan eksamen skryf.

Toe besluit dié ma van Delft op die Kaapse Vlakte om daarvoor te vergoed deur behoeftige kinders van die Hoërskool Voorbrug voor elke matriekvraestel te bederf. Die afgelope drie jaar sit sy voor elke eksamen vir ’n span matrieks ontbyt voor. En as hulle in die middag skryf, is daar middagete ook.

Dié plan het sy in 2012 bedink tydens ’n diens in die Delft AGS-gemeente waar hulle vir die matrieks se eksamenvoorbereiding gebid het.

“Toe – pop! – kom die gedagte,” sê sy.

Haar eerste matrieks was haar dogter, Lauren, en ses maats.

Die volgende jaar het sy 20 behoeftige matrikulante by die Hoërskool Voorbrug bederf en vanjaar was daar 40.

Die spyskaart is heerlik. Vir ontbyt is dit wafels, ’n omelet, worsies, groen slaai en aartappelskyfies. Vir middagete, sê Hendricks, is dit: “Hoender, aartappelslaai, jong, you name it!”

Sy was ’n kinderoppasser, maar sedert September werk sy nie en sy moes hierdie jaar haar spaargeld vir haar liefdeswerk gebruik.

“Alles kom uit my ma se sak,” sê haar dogter en getroue helper, Carol-Ann Johnson, ’n bibliotekaresse in Kuilsrivier. “My ma glo vas ’n kind kan nié op ’n leë maag eksamen gaan skryf nie.”

Die etes word by Johnson se huis onder ’n afdak gehou.

Toe die matrieks die afgelope Donderdag vir middagete aansit, was daar blomme op die vyf tafels en kolletjies-servette in die koeldrankglase. Elke stoel is mooi wit oorgetrek en teen die muur was ’n vrolike banier: ­Matric 2015.

Hendricks-hulle het die vorige oggend om 05:30 al begin tafels dek, maar “vandag is ons rustiger, want past. Norman Dada, het die vleis- en slaaigeregte geborg,” sê Hendricks.

Vir Ashurah Nicholls (19) is Hendricks se gebaar kosbaar. “Ons is baie dankbaar. Nie almal sal al hierdie moeite vir ons doen nie,” sê sy.

“Die ete maak ons kalm voor die eksamen,” sê Bronwyn Roman (19).

“Dit voed ons liggaam en gees,” voeg Chadwin Roberts (19) kopknikkend by.

Hendricks hoop sy kan volgende jaar ’n borg kry. Dalk kan sy die afdak by haar huis klaarmaak en nog tafels opsit.

“Dis soos die vissies en broodjiesverhaal in die Bybel. Leerlinge by die buurskool, Rosendaal Secondary, wil ook nou so ’n ete hê.”

Sy kyk moederlik na die spannetjie wat weglê en glimlag tevrede.

“Die kinders is uitgesort.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.