Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Meyerspark skrap in 2017 Afrikaans

Ouers van die Laerskool Meyerspark in die ooste van Pretoria gaan Maandag ’n beswaarskrif aan die skool oorhandig nadat hulle dié week gehoor het dat Afrikaans as onderrigtaal van volgende jaar ­geskrap word.

Sowat 50 woedende ouers – 15 van hulle Engels – het gister vergader om te besluit oor die pad vorentoe. Hulle win nou regshulp in en wil ’n mosie van wantroue teen die skool se beheerliggaam indien.

Van Januarie is Meyerspark of “Empies” ’n enkelmediumskool met Afrikaans slegs beskikbaar as addisionele taal. Daar is tans ongeveer 1 200 leerlinge in die skool, waarvan 164 onderrig in Afrikaans ontvang.

Jy bel en bel, maar niemand antwoord hul fone nie.

Die ouers het Woensdag ’n brief van die skool ontvang wat lui dat daar by die jaarvergadering, wat verlede week Saterdag plaasgevind het, besluit is dat klasse van gr. 2 tot gr. 6 nie meer onderrig in Afrikaans sal ontvang nie.

Earl Kim-Fley, ’n ­ouer van ’n gr. 3-leerling, sê hulle is op die vergadering geboelie om daardie besluit te neem.

“Daar was geen formele stemproses nie en ouers kon nie eens enige vrae vra nie.”

Hy sê dit was duidelik dat die besluit reeds vooraf geneem is en dat ouers “net daarvan in kennis gestel is”.

Op dieselfde vergadering is besluit om die skool se uniform en wapen te verander en die skoolure te verleng.

Kim-Fley sê dit was die eerste woord wat hulle van die veranderinge gehoor het. “Ons het net ’n brief ontvang met ’n agenda vir die jaarvergadering. Maar toe ons daar aankom, is ons gesê wat gaan gebeur! Ons is glad nie in die besluitnemingsproses ingesluit nie.”

Onderaan die brief wat ouers Woensdag ontvang het, is daar ’n skeurstrokie waar ouers kan aandui of hulle van plan is om hul kinders volgende jaar terug te stuur na die skool of nie.

“Waarheen moet my kind gaan?” vra Yolande Huyzer, wie se dogtertjie vanjaar in gr. 2 was. Sy sê toe sy vir die kind verduidelik wat aangaan, het sy begin huil en gesê: “Mamma, ek sal dit nie maak nie, my ­Engels is nie goed nie.”

Van die ouers het reeds by naburige skole navraag gedoen om hul kinders te skuif, maar die skole het óf nie plek nie óf hulle aanvaar nie meer aansoeke nie.

Kim-Fley sê die skool en die beheerliggaam wil nie hul klagtes hoor nie en verwys alle navrae na die Gautengse departement van onderwys. “Jy bel en bel, maar niemand antwoord hul selfone nie,” sê Kim-Fley.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê die beheerliggaam mag sulke besluite neem, maar moet met redelike versigtigheid optree.

“Daar moet ’n gesamentlike besluitnemingsproses tussen die ouers, gemeenskap en beheerliggaam plaasvind, waar ­almal geregtig is om te stem. ’n In- en uitfaseringstydperk moet geïdentifiseer word, die gemeenskap moet deelneem en dit moet ’n oop proses wees.”

Die departement van onderwys het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Afrikaans  |  Laerskool Meyerspark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.