Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Miljardêr Motsepe probeer wit vrese besweer

Patrice Motsepe, miljardêr-sakeman en swaer van pres. Cyril Ramaphosa, het wit mense se vrese oor grondhervorming probeer besweer.

Motsepe het Maandag by die Universiteit Stellenbosch gepraat waar hy met ’n eredoktorsgraad in die handelswetenskappe vereer is.

Motsepe het in Afrikaans gesê die graad is vir hom ’n groot eer en dat die gehoor al die mense van Suid-Afrika verteenwoordig.

Patrice Motsepe, sy vrou, dr. Precious Moloi-Motsepe, en seun, Tlhopane Motsepe. Foto: Verskaf

“Daar sal altyd uitdagings wees in ons land, maar ons het uitstekende mense en dis hoekom ek vertroue het dat die toekoms vir al ons mense goed sal wees,” het hy gesê.

Daarna het dié stigter van African Rainbow Minerals na Engels oorgeslaan en gesê 2018 is ’n wonderlike jaar omdat dit die US se eeufeesjaar is én oudpres. Nelson Mandela 100 sou geword het.

“Ons moet Mandela se beginsels eerbiedig, veral wanneer ons baie rede het om hoopvol te wees,” het Motsepe gesê.

Hy het oor grondhervorming gepraat omdat dit ’n mediakonferensie oor mynbou wat hy verlede week bygewoon het, oorheers het.

“Ons moet die armes en die werkloses, dié wat sonder grond is, hoop gee en ons moet fokus op die sektore van ons ekonomie wat gemarginaliseer word,” het hy gesê en daarna verwys dat die meeste gemarginaliseerdes in die land swart mense is.

“Maar ons het ook ’n plig teenoor wit Suid-Afrikaners, veral dié wat onseker en vol vrees is oor wat grondhervorming behels.

“Ek is vol vertroue dat ons suksesvol sal wees om seker te maak daar wag ’n blink toekoms op swart mense en ons sal seker maak ook op die wit boere en mense wat onseker is oor grondhervorming. Ons sal die Grondwet en die regstelsel volg, en ons sal suksesvol wees, soos in die verlede. Die land het ’n blink toekoms,” het Motsepe gesê.

“In 1994 het mense gesê demokrasie kan nie in ons land seëvier nie. Ons het die uitdagings oorkom, want daar is goeie mense in die land, wit en swart.”

Net ná Motsepe is Jannie Mouton, stigter van die PSG- groep, ook met die eredoktorsgraad DCom vereer as deel van die US se eeufeesviering.

Mouton het gesê albei sy ouers, sy vorige eggenoot, al drie sy kinders en hul eggenote het aan die US studeer. Hy het geskerts dat sy nuwe vrou, Deidré, aan Tuks studeer het, maar mooi na hom omsien.

“Ek het net een stuk raad,” het Mouton in Engels gesê.

“Staan tyd af en vertel jou kinders in watter pragtige land ons woon. Fokus op die geleenthede. Moenie ’n deskundige op die gebied van wat fout is probeer word nie. Ek vind onder my vriende dat elkeen ’n storie het oor hoe sleg dinge is en dan dink ek: begin eerder ’n wonderlike maatskappy, stel mense aan, betaal belasting en lewer ’n bydrae tot jou land.”

Meer oor:  Us  |  Jannie Mouton  |  Patrice Motsepe  |  Eredoktorsgraad  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.