Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Millenniërs beter geskool, maar meer sonder werk

Werkloosheid onder millenniërs in Suid-Afrika is erger in vergelyking met die voorafgaande generasie, ten spyte daarvan dat hulle meer opgevoed is.

Dít is een van die sleutelbevindinge in ’n verslag oor die stand van die onderwys en die arbeidsmag in 2018 van Statistieke Suid-Afrika (SSA).

Daar is ook bevind dat meer vroulike millenniërs (diegene gebore tussen 1980 en 1999) in vergelyking met hul manlike eweknieë hul skoolopleiding voltooi en tersiêre kwalifikasies behaal het. Tog is meer vroue as mans steeds sonder werk.

Terselfdertyd het sowat een uit twee wit millenniërs tersiêre kwalifikasies behaal in vergelyking met nagenoeg een uit drie wit mense van generasie-X (diegene gebore tussen 1960 en 1980).

generasie-x-volwassenes-se-onderrigvlakke

Die gaping tussen wit en swart mense wat sulke kwalifikasies behaal, het groter geword.

Die statistikus-generaal, Risenga Maluleke, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Pretoria onthul dat 14,9% van die millenniërs in Suid-Afrika teen 2018 ’n tersiêre kwalifikasie behaal het, terwyl net 10,9% van generasie-X dié prestasie in 2002 kon behaal.

Meer millenniërs het ook hul skoolopleiding voltooi.

millennier-volwassenes-se-onderrigvlakke
millennier-volwassenes-se-onderrigvlakke

Tog was die werkloosheidskoers onder die jonger generasie in 2018 hoër met net 23% van millenniërs wat werk gehad het in vergelyking met meer as 26% van generasie-X wat in 2002 in diens was.

Boonop was 9,5% van millienniërs met tersiêre kwalifikasies werkloos in vergelyking met generasie-X met 5,6%.

millenniers-se-arbeidsmageienskappe
generasie-x-se-arbeidsmageienskap
vrygebore-millenniers-se-arbeidsmageienskappe

SSA-data van die algemene huishoudelike opname van 2002 en 2018 is vir die verslag gebruik, asook die arbeidsmagopname van 2002 en die 2018- kwartaallikse arbeidsmagopname.

Prof. Bennie Linde van die departement arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die jonger generasie word deur al hoe meer uitdagings in die gesig gestaar wat indiensneming betref.

“Die ekonomie het die afgelope jare gestagneer en dit het daartoe gelei dat genoeg nuwe poste nie geskep word nie, terwyl tegnologie ook besig is om die werk van mense oor te neem. Ons het ook gesien dat sektore soos die mynbou, wat baie ongeskoolde werkers in diens neem, agteruit boer,” sê Linde.

Maluleke sê die feit dat vroulike millenniërs oor die algemeen meer opgevoed as mans is, maar steeds meer as mans sonder werk sit, wys dat vroue steeds “kwesbaar” in die arbeidsmark is.

“Hoewel vroue goed vaar in die onderwys, sien ons nie dat die deure in die arbeidsmark vir hulle oopgeswaai word nie,” sê Maluleke.

Linde sê hoewel werkgewers oor die algemeen tot gelykheid in die werksplek verbind is, is daar steeds kwessies wat die indiensneming van vroue raak.

“Werkgewers dink byvoorbeeld aan kraamverlof wat produktiwiteit raak, terwyl sekere tradisioneel manlike bedrywe dikwels sukkel om vroulike aansoekers te kry,” sê hy.

Volgens Maluleke het die gaping in die behaling van tersiêre kwalifikasies tussen swart en wit van 2002 tot 2018 met sewe persentasiepunte wyer geword.

Byna die helfte (48,3%) van wit millenniërs het teen 2018 tersiêre kwalifikasies behaal in vergelyking met 12,6% van hul swart eweknieë. In 2002 het 36,2% van wit mense van generasie-X tersiêre kwalifikasies behaal.

Linde sê dié verskynsel is moeilik om te verduidelik, maar hy glo dat toegang tot goeie skole en die uitvalsyfer by universiteite ’n rol speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.