Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Minder geld vir basiese onderwys skep probleme

Besnoeiings aan die begroting van basiese onderwys kan ernstige langtermyngevolge inhou en die toewysing van geld moet beter bestuur word, meen kenners.

Die departement van basiese onderwys is ’n begroting van R23 miljard vir die 2018-’19-boekjaar toegeken.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Woensdag in haar begrotingsrede in die parlement aangekondig hoe dié geld, wat 3% minder is as in die vorige boekjaar, aangewend sal word.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Argief

Motshekga het gesê haar departement is diep bekommerd oor erge besnoeiings aan sy begroting. Dit volg op oudpres. Jacob Zuma se skielike aankondiging in Desember dat studente uit arm en werkersklasgesinne gratis kan studeer. Die tesourie moes spook om geld in die begroting te vind om dit te finansier.

Volgens Motshekga gaan die besnoeiings veral die departement se infrastruktuurprojekte belemmer. Dit sluit in projekte om van puttoilette, waarin talle leerlinge al dood is, en modderskole ontslae te raak. Dit sal dienslewering in die departement ook benadeel.

Motshekga wil dringend met die tesourie hieroor vergader.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die besnoeiings gaan langtermyngevolge inhou.

Volgens Deacon is hoër onderwys afhanklik van die basiese onderwys.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). Foto: Argief

“Sonder goeie basiese onderwys, gaan studente nie sukses behaal op tersiêre onderwysvlak nie,” sê Deacon.

Hy is ook omgekrap oor die Funza Lushaka-beursprogram vir onderwysstudente.

R1,2 miljard van die totale begroting is aan dié beursprogram toegewys.

Deacon sê dit moet uit die begroting van die departement van hoër onderwys en opleiding kom.

“Dit is geld wat aangewend kon word vir ander noodsaaklike uitgawes in basiese onderwys. Daar sal fyn dopgehou moet word hoe die toewysing van geld bestuur word.”

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa. Foto: Argief

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê die minister se planne om binnekort gr. R formeel deel van die skoolstelsel te maak, gaan nie kan realiseer met die huidige besnoeiings nie.

“Daar gaan baie meer doeltreffend op die toewysing vir geld aan vroeë kinderontwikkeling gefokus moet word.”

“Die departement gaan daarop moet fokus om gekwalifiseerde gr. R-onderwysers aan te stel wat spesialiseer in vroeë kinderontwikkeling. Ons kan nie voortgaan met die huidige gr. R-praktisyns nie.”

Hy sê daar sal ook voldoende salarisse aan die gr. R-onderwysers betaal moet word.

Manuel is ook omgekrap omdat basiese onderwys aan die agterspeen moet suig omdat daar gratis hoër onderwys aangekondig is.

“Hoewel gratis hoër onderwys ideaal is, was die besluit op politieke oorweginge gegrond. Ek dink nie die beste onderwyspraktyk en die ekonomie is 100% oorweeg toe hierdie besluit geneem is nie,” sê Manuel.

Meer oor:  Fedsas  |  Naptosa  |  Angie Mo­Tshekga  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.