
Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier en leier van die amptelike opposisieparty in die Vrystaatse wetgewer, het gister (Donderdag) sy doktorsgraad op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit ontvang. Van links is sy seun Tristan, dr. Jankielsohn, sy vrou, dr. Astrid Jankielsohn, en sy promotor, prof. André Duvenhage, professor in politieke wetenskap en politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit.
Transformasie van grondeienaarskap, veral grondhervorming, moet ’n goed deurdagte proses met gesonde politieke, maatskaplike en ekonomiese uitkomste wees en nie op korttermyn- politieke uitkomste gegrond nie, het dr. Roy Jankielsohn in sy doktorale tesis bevind.
Hy sê die transformasie van grondeienaarskap wat betref grondhervorming, grondrestitusie en verblyfregsekerheid het sedert 1994 die beleids- en wetgewende landskap op landbougebied oorheers.
Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, se doktorsgraad is Donderdag (gister) aan hom op die Potchefstoom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) toegeken.
Sy promotor was prof. André Duvenhage, professor in politieke wetenskap en navorsingsdirekteur van die NWU.
Die titel van die proefskrif is The National Democratic Revolution and the transformation of land ownership in South Africa – A critical analysis and alternative framework.
Hy sê in ’n opsomming oor sy studie: “Transformasie van grondeienaarskap het weens eeue se konflik en wetgewende onteiening van grond van die swart meerderheid deur vorige koloniale en Apartheidsregerings ’n geskiedkundige en politieke noodsaaklikheid geword.
“Pogings om grondeienaarskap tussen 1994 en 2014 te transformeer is deur verskeie mislukte programme, wetgewing en beleid gekenmerk. Sedert 2014 het die meer radikale wetgewende en beleidsvoorstelle wat op transformasie van grondeienaarskap gemik is die Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR) as sentrale vertrekpunt beklemtoon.
“Die ideologiese vertrekpunt rondom wetgewende en beleidsvoorstelle gemik op transformasie van grondeienaarskap vereis ’n indiepte-analise. Die gebrek aan ’n analitiese raamwerk vir dié analise het vereis dat só ’n akademiese raamwerk ontwikkel word. Dié analitiese raamwerk is gebruik om ’n kritiese analise van transformasie van grondeienaarskap, soos deur die tema vereis, uit te voer.
“Aangesien die studie binne die dissipline van politieke wetenskap uitgevoer is, is hoofstukke toegeken aan die meta-teoretiese en teoretiese aspekte wat dié studie binne die dissipline van politieke wetenskap anker. Die ideologiese aard van die NDR vereis ’n konseptualisering en bespreking van ideologie met al sy kategorieë.
Die gevolg is ’n opvattende analise van die mees relevante beleidsvoorstelle oor transformasie van grondeienaarskap met die NDR as vertrekpunt.”