Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Moedertaal, kennis, werk Afrikaanse skole se sukses’

Die matriekslaagsyfer van Afrikaanse skole is 86,9% teenoor die landwye slaagsyfer van 78,2%, sê Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) in ’n verslag wat Dinsdag uitgereik is.

“Indien Afrikaanse skole se uitslae nie by die 2018-matriekuitslae ingereken word nie, sou die departement van basiese onderwys die afgelope week met ’n veel laer slaagsyfer, minder onderskeidings in wiskunde en ’n kleiner persentasie universiteitsvrystellings gespog het,” sê Elaine Krige, skakelbeampte van die SOS.

Dr. Danie Brink, hoof van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), Marna Jordaan, hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, Valentyn van der Merwe, wiskunde-deskundige verbonde aan die SOS, en Elaine Krige, skakelbeampte van die SOS. Foto: Andrea Küsel

Die SOS stel jaarliks ’n verslag oor die prestasie van matriekleerlinge in Afrikaanse skole saam. In dié geval word Afrikaanse skole gedefinieer as enige skool wat Afrikaans as huistaal aanbied.

“Sou Afrikaanse skole uit die vergelyking gelaat word, sou die nasionale slaagsyfer 76,7% gewees het. Die SOS kon ook vasstel dat enkelmedium- Afrikaanse skole ’n slaagsyfer van 90% behaal het,” sê Krige.

Luidens die verslag het byna die helfte van Afrikaanse matrikulante met toegang tot graadstudie geslaag, teenoor minder as ’n derde van die res van die land se matrieks.

Sowat 7,5% van leerlinge in Afrikaanse skole het onderskeidings in wiskunde gekry, teenoor 1,9% van die res van die matrieks.

Tien van die 20 skole wat die meeste onderskeidings in die eksamen behaal het, is Afrikaanse skole. Volgens die SOS is Afrikaanse skole se sukses onder meer te danke aan moedertaalonderrig van goeie gehalte en goeie onderwysers.

“Moedertaal is onontbeerlik vir uitnemende onderrig en kultuuroordrag is belangrik om die waardes te vestig wat lewenslange sukses verseker,” sê Krige.

Marna Jordaan, hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, sê die opleiding wat onderwysers ontvang, speel ’n kardinale rol in die sukses van enige skool.

’n Gebrek aan taalvaardigheid kniehalter leerlinge se prestasie in vakke soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde. “Ons onderwys in Suid-Afrika het ’n probleem met lees, begrip en die toepassing daarvan. Dit is deels waarom skole nie presteer nie.”

Nóg ’n faktor is die verhouding tussen onderwysers en leerlinge. “Daar moet ’n spesifieke belangstelling in, en betrokkenheid by elke leerling wees. Vir my is dit belangrik om ’n leerling wat met wiskunde stoei, nie bloot af te skuif na wiskundige geletterdheid nie, maar om haar by te staan en te verseker dat sy minstens 50% in daardie vak ontvang,” sê Jordaan.

As elke skool in Suid-Afrika nie ordentlike beheer en bestuur het nie, sit ons met ’n probleem.

Op die vraag hoe alle skole in die land op dieselfde vlak as Afrikaanse skole kan presteer, sê dr. Danie Brink, hoof van die SOS, onderwysers se kennis is die plafon vir leerlinge.

“Onderwysers se vakkennis is gebrekkig. As jy punte en prestasie wil hanteer, moet jy eers onderwysers se kennis aanpak. ’n Regering wat sy sout werd is, sal dié probleem in voorgraadse opleiding en in die professionele ontwikkeling van bestaande onderwysers aanpak.”

Brink stem nie saam dat Afrikaanse skole goed presteer omdat hulle in die apartheidstyd bevoordeel is nie.

“Skole presteer danksy toegewyde onderwysers.”

Jordaan stem saam en sê sterk leierskap is nodig vir skole wat wil presteer.

“As elke skool in Suid-Afrika nie ordentlike beheer en bestuur het nie, sit ons met ’n probleem. ’n Gebrek aan leierskap is ’n enorme probleem in die onderwysgemeenskap. Orde en struktuur gee aan ’n goed opgeleide onderwyser die geleentheid om doelwitte te behaal.”

Krige sê verskeie Engelse skole op die platteland het baie min geld, maar presteer uitstekend. “Hulle is jaar ná jaar eerste met wiskunde en wetenskap omdat hulle leierskap en goeie onderwysers het en hulle bereid is om hard te werk.”

Meer oor:  Matriekslaagsyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.