
Prof. Bonang Mohale Foto: Verskaf
Prof. Bonang Mohale is vroeër op ’n spesiale raadsvergadering tot kanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV) verkies.
Mohale volg dr. Khotso Mokhele op wie se termyn as kanselier op 3 Junie verstryk.
Luidens ’n verklaring van die UV is Mohale ná ’n uitgebreide keuringsproses tot kanselier verkies.
Dr. Willem Louw, voorsitter van die universiteitsraad, sê die universiteit is gelukkig om iemand van Mohale se kaliber in die pos te kon aanstel.
“Die raad is bevoorreg dat prof. Mohale dié rol gaan vervul.”
Mohale se termyn van vyf jaar begin op 4 Junie.
Hy is ’n professor in praktyk by die Johannesburg Business School se College of Business and Economics, asook ’n gerespekteerde sakeleier wat al as voorsitter en direkteur van verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye gedien het.
Mohale is ook ’n voormalige uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, waar hy verskeie programme geloods het om buitelandse beleggings te lok en werk te skep. Hy is ook ’n skrywer wat plaaslik en internasionaal aan sy sake-insig en vaardighede geken word.