Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Motshekga: ‘Hulle steek nie by skole aan’

Die departement van basiese onderwys het tans geen konkrete bewyse dat onderwysers en leerlinge wat positief vir die koronavirus getoets is, by skole aangesteek is nie.

Volgens Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, is daar aan haar departement gesê dat die 11 onderwysers, drie leerlinge en vier ondersteuningspersoneel wat tot dusver landwyd aan Covid-19 dood is, dit in hul gemeenskappe gekry het.

“Sonder sulke bewyse kan ek egter ook nie sê dit is nié die geval nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Kopano Tlape/GCIS

“Die verslae wys dat sommige van hierdie onderwysers en leerlinge nie eens die geleentheid gehad het om by hul onderskeie skole aan te kon meld toe dit (op 8 Junie) heropen het nie omdat hulle in hul gemeenskappe aangesteek is.”

Motshekga het dít Sondag op ’n mediakonferensie gesê wat sy saam met LUR’s vir onderwys toegespreek het oor skole se gereedheid om Maandag onderskeidelik gr. R-, graad 6- en gr. 11-leerlinge terug te verwelkom.

In meeste provinsies sal gr. 6- en gr. 11-leerlinge terugkeer en in sommige provinsies ook gr. R-leerlinge.

Motshekga het bygevoeg dat 968 skole of 4% uit 25 762 landwyd tot dusver gemiddeld vir drie dae moes sluit nadat die koronavirus by die skole gevind is.

Die virus is by 2 740 uit die totale 440 000 onderwysers en sowat 1 260 of 0,01% van die totale leerlingbevolking tot dusver gediagnoseer.

Motshekga het gesê dat sowat 10 000 of 2,5% van alle onderwysers ook aansoek gedoen het om weens onderliggende gesondheidsprobleme van die huis af te werk.

Ons monitering dui aan dat baie skole probleme met ruimte sal hê soos meer grade terugkeer. Alle skole sal innoverende benaderings moet aanneem ten opsigte van rooster- en klaskamerbestuur om te verseker dat alle kinders kan terugkeer.

Waterprobleme is voor die heropening van skole by sowat 3 500 skole geïdentifiseer. “Tot op datum is watertenks by sowat 2 175 skole afgelewer. Rand Water het tot dusver ook gehelp om watertenks by 3 380 skole vol te maak, terwyl verskeie waterrade en munisipaliteite ook voldoende waterverskaffing en sanitasie by skole help verseker.”

Volgens Motshekga is daar ook “angstige” ouers wat nie hul kinders tydens die pandemie wil terug stuur skool toe nie. “Ons raai hierdie ouers aan om aansoek by hul provinsiale onderwysdepartemente te doen vir tuisonderrig.”

Motshekga het bygevoeg dat sowat 1 718 skole ook tydens die inperking beskadig is en dat dit steeds plaasvind.

“In Gauteng is 351 skole geraak en ses is net die afgelope week gevandaliseer. In Noordwes is ’n skool die week aan die brand gesteek en drie klaskamers is beskadig.

“Dit is ’n ernstige terugslag vir die gemeenskappe wat deur hierdie barbaarse optrede geraak word wat so baie skade aan ons infrastruktuur veroorsaak.”

Motshekga het bygevoeg dat daar met die terugkeer van gr. 7 en gr. 12-leerlinge op 8 Junie geen probleme met ruimte en skoolmeubels ondervind is nie.

“Ons monitering dui aan dat baie skole probleme met ruimte sal hê soos meer grade terugkeer. Alle skole sal innoverende benaderings moet aanneem ten opsigte van rooster- en klaskamerbestuur om te verseker dat alle kinders kan terugkeer.

“Terselfdertyd sal daar aan die nodige maatreëls vir gesonde afstande voldoen moet word.”

Sy het bygevoeg daar word verskeie keuses oorweeg, maar blyk dit dat meeste provinsies ten gunste van ’n roterende benadering vir leerlinge is.

Motshekga sê dat ’n hersiene jaarlikse onderrigplan ook vir skole ontwikkel is.

Volgens haar het die raad van onderwysministers weens die stygende infeksievlakke in talle provinsies ook besluit om Maandag net gr. R, gr. 6 en gr.11-leerlinge te laat terugkeer.

“Die raad het ook kennis geneem dat provinsies op verskillende vlakke van gereedheid vir gr. R-leerlinge se terugkeer is.”

Dié wat nie gereed is nie, moet strategiese planne en praktiese planne verskaf om dié graad teen einde Julie vanjaar in te faseer. Provinsies wat gereed is, kan gr. R-leerling terug verwelkom.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Skole Heropen  |  Onderwysers  |  Leerlinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.