Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Motshekga ‘moet dringend plan maak’ met onnies wat tuis sit

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, “moet dringend” ’n plan voorlê oor hoe sy kontinuïteit in die lig van die pandemie in skole gaan verseker, ondanks die afwesigheid van meer as 20 000 onderwysers wat tuis is weens onderliggende siektetoestande.

Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor basiese onderwys, het Vrydag in ’n verklaring gesê die minister het erken die onderwysdepartement het tans “nie geld” vir aflosonderwysers nie, en moes daarom die nasionale tesourie vir finansiële steun nader.

“Die tekort aan beskikbare finansiering vir aflosonderwysers kan vernietigende gevolge vir die opvoeding van ons leerlinge inhou, veral dié in armer gemeenskappe met minder hulpbronne,” voer Marchesi aan.

Luidens die verklaring het die DA vroeër al die minister gevra oor hoe die gapings wat gelaat sou word deur onderwysers met onderliggende siektetoestande, gevul sou word.

“En noudat ons met ’n moontlike krisis in die onderwysstelsel sit, skarrel die departement om geld te vind.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê egter dat nie alle skole aflosonderwysers benodig nie en dit is ook nie die enigste rede hoekom die departement die tesourie nou nader nie.

Hy het verwys na die departement se voorlegging vroeër die week aan die parlementêre portefeuljekomitee waar gesê is daar word gewerk aan oplossings vir die tekort aan onderwysers.

En noudat ons met ’n moontlike krisis in die onderwysstelsel sit, skarrel die departement om geld te vind.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, het in daardie stadium gesê die onderwysdepartement het nie geld om aflosonderwysers in die plek van elkeen van die 22 000 onderwysers aan te stel wat weens onderliggende siektetoestande toestemming het om van die huis af te werk nie. Paddy Padayachee, hoof van beplanning, inligting en assessering van die onderwysdepartement, het bygevoeg dat die departement wel aflosonderwysers aanstel, maar dat sekere grade voorkeur geniet. Vir die res van die grade wil sekere provinsies assistentonderwysers aanstel wat as ’n skakel tussen die onderwyser by die huis en die klaskamer kan dien.

Marchesi se reaksie Vrydag was dat die land se onderwysstelsel reeds onder geweldige druk is weens die Covid-19-pandemie omdat skole aan sekere vereistes soos die handhawing van afstand, afstandsonderrig en kleiner klasse moet voldoen.

“Dit vereis ekstra onderrigvermoë by skole. Ons het voorheen die minister versoek om finalejaar-onderwysstudente te betrek om te help. Ons het die tesourie versoek om meer geld aan die onderwysdepartement te gee omdat geld eerder aan ander departemente gegee is.

“Die regering was kortsigtig en nou lyk dit of daar min tot geen geld beskikbaar is om ononderbroke onderrig aan ons kinders in ’n krisistyd te gee,” lui Marchesi se verklaring.

Mhlanga, in sy antwoord dat daar nie oral aflosonderwysers benodig word nie, verduidelik dat nie alle leerlinge gelyktydig by ’n skool teenwoordig is nie.

“Nie alle grade of klasse woon elke dag skool by nie. Die skole sit met 50% of minder leerlinge. In baie gevalle help onderwysers van een graad uit met klasse vir ander grade, wat aflosonderwysers onnodig maak.

“Daar is op sommige plekke, soos in die Wes-Kaap, assistentonderwysers aangestel, en op plekke waar daar vakante poste is, of onderwysers aftrede nader, kyk ons eers of ons dit met permanente aanstellings kan vul,” sê Mhlanga.

“Ja, daar is skole waar ons aflosonderwysers benodig, maar ons moet eers bepaal hoeveel onderwysers steeds gaan terugkeer. Ons kan byvoorbeeld nie iemand wat in ’n permanente pos is en dalk volgende week vir diens gaan aanmeld, vervang nie.”

Die regering was kortsigtig en nou lyk dit of daar min tot geen geld beskikbaar is om ononderbroke onderrig aan ons kinders in ’n krisistyd te gee.

Hy sê die tesourie word nie net vir geld vir aflosonderwysers genader nie, hoewel dit deel daarvan is.

“Die minister het verduidelik dat ons 2020-’21-begroting ook vir ander onvoorsiene dinge gebruik moes word.

“Ons kon nie destyds, toe ons vir die finansiële jaar beplan het, voorsien dat ons maskers en ontsmettingsmiddel vir leerlinge gaan moet koop nie, of meer mobiele toilette en ekstra waterpunte by sekere skole moet kan voorsien nie,” sê hy.

Geld wat aanvanklik vir ander dinge bestem was, moes nou op ander plekke bestee word.

“Die onderwysdepartement was nie een van dié wat geld van die spesiale Covid-19-fonds gekry het nie. Ons moes dit wat ons gehad het, maak werk. Die tesourie moet ingelig word oor watter geld vir wat gebruik is, ook dat sekere beoogde programme tot in 2022 nou nie haalbaar is nie,” sê Mhlanga.

Die minister het verduidelik dat ons 2020-’21-begroting ook vir ander onvoorsiene dinge gebruik moes word.

Meer oor:  Nomsa Marchesi  |  Koronavirus  |  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.