Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
MRK ondersoek ‘Maties wat nie Afrikaans mag praat’

Die Menseregtekommissie (MRK) begin Maandag met ’n ondersoek na bewerings dat studente van die Universiteit Stellenbosch (US) glo nie Afrikaans as kommunikasietaal mag gebruik nie.

Dit kom nadat die MRK klagtes van studente gekry het dat hulle glo nie Afrikaans in private gesprekke en op platforms soos WhatsApp mag gebruik nie.

“Die kommissie wil bepaal tot watter mate die beweerde verbod strek,” lui ’n verklaring van die MRK.

Studente mag glo ook nie Afrikaans in private ruimtes soos in die koshuis of in hul slaapkamers of buite voor die koshuis praat nie.

Luidens die verklaring sal prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, Maandag op die MRK-sitting teenwoordig wees. Ander belanghebbendes word ook uitgenooi om vertoë te rig.

“Deur die ondersoek sal bepaal word tot watter mate menseregte soos die reg tot gelykheid op grond van taal, ras en enige ander gronde geskend word,” lui die MRK se verklaring.

Die US sê hy verwelkom die geleentheid om met die MRK oor die bewerings in gesprek te tree.

Die US sê dit is verkeerd om studente te verbied om Afrikaans in sosiale verband te gebruik. Dit is ook verkeerd as studente onder druk geplaas word om nie Afrikaans te gebruik nie in ’n kursus met spesifikasies wat wel vir Afrikaans voorsiening maak.

Deur die ondersoek sal bepaal word tot watter mate menseregte soos die reg tot gelykheid op grond van taal, ras en enige ander gronde geskend word.

Volgens die US is dit nie sy beleid nie en is dit nie veronderstel om te gebeur nie.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Woensdag geëis dat die US dit onomwonde stel dat koshuisstudente in die taal van hul keuse mag kommunikeer.

Die SAOU het verwys na bewerings vroeër vanjaar dat studente in sommige koshuise verbied word om Afrikaans te praat en selfs om in Afrikaans te sing.

Intussen het die DA se Leon Schreiber die MRK-ondersoek verwelkom.

Die DA het vroeër vanjaar ’n klag oor die US se taalbeleid by die MRK ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat studente glo al hoe meer op die kampus verbied word om Afrikaans te praat.

Schreiber sê die DA sal die MRK-sitting bywoon om na De Villiers se getuienis te luister.

“Ons sien voorts ook uit om self te getuig en om Afrikaanse studente op hul beurt te help om hul stem te laat hoor,” sê Schreiber.

“Dit is ’n onteenseglike feit dat moedertaalonderrig uiters belangrik vir die sukses van studente is. Dit is ook die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners om hulself uit te druk in hul moedertaal en om onderrig in die taal van hul keuse te ontvang,” sê Schreiber.

Die US sê studente kan nie verbied word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie en dit is nie in pas met sy taalbeleid nie.

Die universiteit het ook met ’n afsonderlike ondersoek na die bewerings begin en sal met gesprekke oor die inwerkingstelling van sy beleid voortgaan.

Dit is ’n onteenseglike feit dat moedertaalonderrig uiters belangrik vir die sukses van studente is. Dit is ook die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners om hulself uit te druk in hul moedertaal en om onderrig in die taal van hul keuse te ontvang.

Die US sê verder hy het, in teenstelling met ander universiteite in Suid-Afrika, reeds ’n geruime tyd gelede meertaligheid gekies.

“Ons het dit gekies omdat ons as instelling rekening hou met die diversiteit van ons samelewing – wat ons taaldiversiteit insluit – sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê,” sê die US.

Daarom is hy (die US) van mening dat studente meer keuses, meer toegang en ’n beter toekoms vanweë sy taal-benadering het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.