Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
MRK ondersoek ‘verbod op Afrikaans’ by US

Die Menseregtekommissie (MRK) het Donderdag ’n brief aan prof. Wim de Villiers, die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), gestuur nadat hy klagtes ontvang het oor bewerings van ’n verbod op die gebruik van Afrikaans as omgangstaal in koshuise.

André Gaum, kommissaris van die MRK, sê die kommissie het ook met ’n ondersoek begin oor bewerings van die skending van die menseregte van Afrikaanse studente op die kampus en in die koshuise.

“Die MRK sal in sy ondersoek met onder andere die universiteitsbestuur, mentors en studente praat,” het Gaum Donderdag by navraag aan Netwerk24 gesê.

Die DA het ’n klagte namens vyf studente ingedien. Die studente het die DA genader vir hulp.

Volgens hom is klagtes van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, ontvang.

“Die DA het ’n klagte namens vyf studente ingedien. Die studente het die DA genader vir hulp. Die eedsverklarings van die studente is ook ontvang,” sê Gaum.

“Die ondersoek hou in hierdie stadium verband met beweerde skendings van ’n aantal regte, onder meer die reg op gelykheid op grond van taal en ras.”

Die ondersoek kom nadat Afrikaanssprekende studente in koshuise glo tydens hul oriënteringsweek deur mentors aangesê is om slegs Engels te praat in selfs private ruimtes, hul slaapkamers, op digitale platforms soos WhatsApp en selfs op parkbankies voor die koshuise.

Die gebruik van Engels sou glo wees om inklusiwiteit te verseker en dat niemand van aktiwiteite uitgesluit word nie.

Schreiber het Donderdag in ’n verklaring die ondersoek verwelkom en die publiek aangemoedig om die party se petisie op sy webblad te onderteken om die eerste konsep van die universiteit se hersiene taalbeleid te verwerp. Volgens Schreiber sal die hersiene taalbeleid die posisie van moedertaalonderrig verder verswak en waarskynlik tot verdere menseregteskendings teen Afrikaanse studente lei.

“Ons sal die versoekskrif en die duisende handtekeninge voor 12 April by die US indien,” sê hy.

Hy het ook ’n beroep op De Villiers en die universiteit se kanselier, Edwin Cameron, gedoen “om hul ontstellende stilte te verbreek oor hierdie skandelike skendings van die reg op moedertaalonderrig”.

Schreiber sê: “In plaas daarvan om op die MRK se ondersoek te wag, moet die universiteitsbestuur in die openbaar om verskoning vra vir die verbod op Afrikaans, en die proses om die taalbeleid te hersien onmiddellik weer begin met die eksplisiete doel om gelyke status aan Afrikaans en Engels te waarborg.”

Die universtiteit het Dlonderdagaand in 'n verklaring as volg op die kwessie gereageer:

Die Universiteit Stellenbosch bly verbind tot meertaligheid en daarom verwelkom die bestuur die ondersoek deur die Menseregtekommisie en daarmee saam die geleentheid om die saak op te klaar.

Via die afdeling studentesake het die universiteit 'n eie ondersoek geloods, terwyl hy ook met studenteleiers in koshuise oor die aangeleentheid in gesprek getree het om 'n gedeelde begrip van die taalbeleid (2016) te bewerkstellig.

Dit het werksessies ingesluit oor die implementering van die taalbeleid om studenteleiers te bemagtig en ook om die nakoming van die beleid te verseker.

Hierdie werksessies ondersoek ook maniere oor hoe om meertaligheid onder studente te bevorder.Wat belangrik is, is dat die universiteit 'n opvoedkundige instelling is en dat die situasie dus konstruktief as 'n leergeleentheid gehanteer word. 

Dit is van kritieke belang in ons diverse en meertalige kampusgemeenskap. As teken van hoe ernstig die universiteit die saak sien, word 'n onafhanklike ondersoek ook geloods.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.