Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
MRK sal hof toe gaan as regulasies vir skole nie gewysig word

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) staan gereed om Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, in die hof te pak oor die wyse waarop die heropening van skole gedurende die staat van inperking hanteer word.

Adv. André Gaum, ’n MRK-kommissaris, het gesê Motshekga het tot Woensdag om 14:00 kans om meer wetlike besonderhede oor die Covid-19-regulasies met betrekking tot die heropening van skole te verskaf.

Angie Motshekga
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Gallo Images

Die MRK voer aan die huidige regulasies is diskriminerend teenoor skole wat nie aan die maatreëls vir sifting, sanitasie en die handhawing van ’n gesonde afstand kan voldoen nie.

Schäfer se kantoor het Dinsdag gesê haar besluit om skole op 1 Junie te heropen is geldig en gegrond op ’n verslag dat 98% van die skole in die provinsie gereed was om te heropen.

Dit kom nadat die nasionale onderwysdepartement Sondag op die nippertjie aangekondig het die heropening van skole vir gr. 7- en gr. 12-leerlinge word met ’n week uitgestel tot 8 Junie omdat skole in groot dele van die land nog nie gereed is nie.

Volgens die voorgeskrewe regulasies is die aanvangsdatum vir die infasering van die terugkeer van leerlinge egter steeds 1 Junie.

“Aanvanklike verslae dui daarop dat meer as 98% van ons skole (Maandag) heropen het. Ons wil al ons skoolhoofde en onderwysers bedank vir hul voorbereiding vir die terugkeer van leerlinge, wat hulle gister veilig ontvang het,” het Schäfer se woordvoerder, Kerry Mauchline, Dinsdag gesê.

“In die eerste regulasies wat Vrydag ingestel is, is gr. 1- en gr. 2-leerlinge per ongeluk uitgelaat. Dit moes dus gewysig word. Die datum vir gr. 7- en gr. 12-leerlinge het 1 Junie 2020 gebly,” het Mauchline gesê.

Die vasgestelde datum vir gr. 1’s en gr. 2’s is 6 Julie.

skole heropen

Schäfer het in ’n twiet geskryf: “Ek sou nooit in my lewe kon dink dat ek gevra sou word om ’n onderneming te gee om kinders nié te onderrig nie. En dit nogal deur die Menseregtekommissie.”

Die nasionale onderwysdepartement sê die kwessies wat deur die MRK geopper is, sal aandag kry wanneer die nuwe regulasies Vrydag aangekondig word.

Elijah Mhlanga, Motshekga se woordvoerder, het gesê die minister het reeds erken die regulasies is oorhaastig gedoen.

Motshekga het Maandag tydens ’n aankondiging om verskoning gevra vir die verwarring.

Mhlanga het bygevoeg die wysigings met betrekking tot die MRK se besware is reeds opgestel en sal gereed wees om Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer te word.

Mhlanga het pres. Cyril Ramaphosa se stelling herhaal dat ouers wat nie gemaklik is daarmee om hul kinders skool toe te stuur nie, dit nie hoef te doen nie.

Dié ouers moet egter hul kinders vir tuisonderrig registreer, anders word hulle ná tien agtereenvolgende dae as afwesig aangedui, wat gevolge kan hê.

“Die regulasies sal vandeesweek gepubliseer word. Trouens, die minister het dit self (Maandag) in haar toespraak gesê.”

Volgens Mhlanga maak die MRK se ultimatum nie sin nie omdat die wysigings al die probleme ondervang wat geopper is.

Wat die Wes-Kaap betref, het Mhlanga gesê provinsies het bepaalde magte. Volgens hom is Schäfer en Motshekga in gesprek oor kwessies in die provinsie, onder meer oor die toename in infeksies in die Wes-Kaap.

Volgens die MRK word daar in afdelings 4.2 en 4.3 van die Covid-19-regulasies vir die terugkeer na skole ’n onderskeid getref tussen skole wat die maatreëls van sifting, sanitasie en die handhawing van ’n gesonde afstand kan nakom en die skole wat dit nie kan doen nie.

Volgens afdeling 4.2 kan skole wat die betrokke maatreëls in plek het, op 1 Junie heropen. In afdeling 4.3 word daar vermeld dat skole wat nie gereed is nie, nie op 1 Junie hoef te heropen nie.

Die MRK meen dit is nie regverdig teenoor leerlinge van skole wat nie die regulasies kan nakom nie en dat sodanige diskriminasie ongrondwetlik is.

Volgens Gaum moet alle skole gelyke behandeling kry en voordat dit gebeur, moet skole nie heropen nie.

“Skole moet gesluit bly totdat die wysigings aangebring is,” het Gaum gesê.

Die MRK wil hê Schäfer moet voldoen aan Motshekga se opdrag dat die skole eers 8 Junie heropen.

Meer oor:  Mrk  |  Angie Mothsekga  |  André Gaum  |  Debbie Schäfer  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Skole Heropen  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.