Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
MRK sê WKOD moenie nou lesse hervat

Die Menseregtekommissie (MRK) het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gevra om teen Dinsdag 14:00 te bevestig dat geen akademiese aktiwiteite dié week sal plaasvind by skole wat Maandag heropen het nie, totdat die riglyne oor skole se heropening in die Staatskoerant gewysig is.

Verder het die MRK ook vir Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, versoek om teen Dinsdag 14:00 te bevestig dat die wysigings aan die riglyne teen Vrydag gemaak sal word. Indien dit nie gebeur nie, sal die kommissie ’n hofaansoek indien vir ’n interdik teen die heropening van skole totdat die riglyne gewysig is om met die reg op onderwys ooreen te stem.

Die departement van basiese onderwys het Sondagaand aangekondig dat skole eers op 8 Junie sal heropen, en nie Maandag 1 Junie soos vroeër in die Staatskoerant afgekondig is nie.

Skole in die Wes-Kaap het wel heropen nadat Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, gesê het die provinsie se skole is gereed.

Skole in die Wes-Kaap het wel heropen nadat Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Sondagaand in ’n verklaring gesê het die provinsie se skole is gereed en die provinsiale departement “gaan hom nie steur aan die ommeswaai wat Motshekga gemaak het nie”.

Schäfer sê 1 Junie is in die Staatskoerant aangekondig as die dag waarop die skole moet oopmaak. Volgens die riglyne wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is, moet skole wat nié aan die Covid-19-regulasies voldoen nie gesluit bly totdat die maatreëls in plek is. Skole wat wel aan die regulasies voldoen, kan volgens die riglyne open.

Adv. André Gaum, ’n MRK-kommissaris, sê in ’n brief aan Schäfer die MRK het Saterdag sy kommer teenoor Motshekga uitgespreek oor die riglyne, omdat dit leerlinge van skole wat nie gereed is nie, ontneem van hul reg op onderwys wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Gaum sê Motshekga het Sondag onderneem om die riglyne te laat hersien en ’n gepaste wysiging te maak. Motshekga het dié onderneming Maandag tydens ’n mediakonferensie herhaal.

Motshekga het herhaaldelik om verskoning gevra dat leerlinge eers volgende week sal kan terugkeer omdat al die provinsies nie Maandag op dieselfde gereedheidsvlak was nie.

Sy sê leerlinge wat reeds die naweek by skole opgedaag het, soos diegene wat in koshuise bly, moet solank georiënteer word oor die nuwe omstandighede by skole.

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Maandag in ’n verklaring gesê die regulasies soos afgekondig in die Staatskoerant geld en kan nie na willekeur deur Motshekga se media-uitsprake gewysig word nie.

“Die optrede van die Gautengse onderwysdepartement om skole wat vandag vir gr. 7- en gr. 12-leerlinge geopen het en aan alle gesondheidsvereistes voldoen te dwing om leerlinge huis toe te stuur, is onwettig en strydig met die regulasies.

“Die stap om Wes-Kaapse skole te heropen toon sterk leierskap deur Schäfer. Die beginsel dat elke skoolbestuurspan en skoolbeheerliggaam die skool se omstandighede en skoolgemeenskap die beste ken, en die reg het om aanpassings te maak soos nodig om hul unieke situasie te bestuur, is in die beste belang van leerlinge en onderwysers,” sê die SOS.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê hy verstaan die argument dat die regulasies in die Staatskoerant geld, maar dat werknemers nie ’n werkgewer se opdrag kan ignoreer nie.

“Die minister het nou al twee maal in die openbaar gesê dat skole eers op 8 Junie begin. Indien die werkgewer (die provinsiale departemente) ’n opdrag gee, sal dit nie wys wees as ’n werknemer (die skoolhoof en personeel) lynreg daarteen optree nie. Dit sal ook nie verantwoordelik van die SAOU wees om lede aan te moedig om insubordinasie te pleeg nie,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

Volgens Klopper is arm, landelike skole ver agter skole wat gereed is.

“Hulle het nie die voordeel van aanlyn klasse gehad nie, en het nie die geld om self die beskermende toerusting te koop nie. Dit is ’n gegewe dat nie alle skole almal op ’n bepaalde dag op presies dieselfde plek sal wees nie. Hopelik sal daar op 8 Junie ’n billike bedeling heers en kan die opening regverdig wees,” sê Klopper.

Die SAOU, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), die Nasionale Vereniging vir Skoolbeheerliggame (NVS) en die Beheerliggaamstigting (GBF), asook Naptosa, Sadou, PEU en Natu het Sondag in ’n gesamentlike verklaring die stuksgewyse opening van skole verwerp en meen die Wes-Kaap se besluit kan nie toegelaat word nie.

“Geen skool moet agtergelaat word nie, veral nie as gevolg van onbevoegdheid en traagheid nie. Gegewe die historiese onregte is dit duidelik watter skole agtergelaat sal word indien ’n stuksgewyse benadering gevolg word.

“Die houding van die Wes-Kaap om hulself buite die kollektief te plaas, kan nie toegelaat word nie. Suid-Afrika is een land en hul aandrang om alleen voort te gaan, ondermyn die eenheid van ons onderwysstelsel,” lui die verklaring.

“Ons sal hul besluit noukeurig bestudeer en uitdaag. Dit is ’n tyd om solidariteit met ander provinsies en duisende van ons onderwysers en leerlinge se situasie te toon.”

Die burgerregte-organisasie Section27 en die drukgroep Equal Education (EE) sê in ’n gesamentlike verklaring die onderwysdepartement het nie sy belofte gestand gedoen dat skole veilig sal heropen nie.

Luidens die verklaring het daar ’n maand verloop sedert Motshekga in ’n inligtingsessie maatreëls vir skole aangekondig het en die departement onderneem het om beskermende toerusting en infrastruktuur vir water en sanitasie aan skole te lewer. Dié planne is nie behoorlik geïmplementeer nie.

“Die onderwysdepartement en die meeste provinsiale departemente se onvermoë om hul eie spertye te haal, is ’n toonbeeld van hul voortdurende mislukkings om handboeke, noodsaaklike infrastruktuur soos toilette en vervoer vir leerlinge te verskaf.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê in die federasie se jongste nuusbrief dat hy nie noodwendig saamstem met die WKOD se besluit nie.

“Dit is seker die Wes-Kaap se reg om so te besluit, maar ons betwyfel die wysheid daarvan om in onsekere en spanningsvolle omstandighede wat alle Suid-Afrikaners raak so ’n aankondiging te doen, veral in ’n provinsie wat tans verreweg die hoogste infeksiekoers in die land het. Dit is nou ’n tyd vir saamstaan en nie verdeeldheid nie.”

Meer oor:  Mrk  |  Wkod  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Koronavirus  |  Lesse  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.